Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Kan loskopstut Kitsie soos Beast maak?

As die geskiedenis van wedstryde tussen die Springbokke en Britse en Ierse Leeus opgeteken word, kan ’n bladsy afgestaan word aan die skrumstryd tussen Tendai Mtawarira en Phil Vickery in 2009 se eerste toets op Kingspark in Durban.

Die Leeus-ondersteuners en Britse media het hoë verwagtinge van hul agttal gekoester, maar toe loop Vickery hom in ’n omgesukkelde “Beast” vas en eindig hy die stryd met sy reputasie aan flarde geskrum.

Só voel Steven Kitshoff oor die gehalte van die Springbok-vaskopstutte. Foto: Gallo Images

Het die Bokke nie onwettig geskrum nie? wou die Britse en Ierse media weet. Nee, het Graham Rowntree, die Leeus se skrumafrigter die volgende oggend op ’n nuuskonferensie gesê.

Mtawarira se bomenslike poging teen ’n vaskopstut wat Engeland in twee Wêreldbeker-eindstryde verteenwoordig het, was binne die reëls.

Verwag dus maar dat baie drukkersink opgebruik gaan word om die belangrikheid van die skrumstryd te skets in 24 Julie se eerste toets in die Kaapstad-stadion. Aan die Bokke se kant is dit waarskynlik ’n gegewe dat Steven Kitshoff hul nr. 1-trui gaan dra.

“In 2009 was ek maar nog in graad 11,” vertel Kitshoff vandeesweek oor wat hy van Mtawarira en Vickery se stryd onthou.

“Dit was heerlik om as ’n kind te sien hoe Beast só goed speel. As ek vir die Bok-span gekies word, sal ek my bes doen om die standaarde in die trui so hoog as moontlik te hou.

“Om ’n paar seisoene saam met Beast te kon speel, was ’n massiewe eer. Dit was ’n voorreg om by hom te kon leer. Ons almal weet hy is ’n legende van die spel en Suid-Afrikaanse rugby.”

Gaan Steven Kitshoff maalvleis van ’n Leeus-vaskopstut maak soos Tendai Mtawarira met Phil Vickery in 2009 se eerste toets op Kingspark in Durban? Foto: Getty Images

Kitshoff verwag “van die taaiste paar weke” in sy lewe indien hy in die reeks teen die Leeus speel.

“Dit is een van die taaiste reekse waarin jy sal speel,” sê hy.

“Die Leeus-spelers het die afgelope ruk baie gespeel, maar ons het ook nou saamgetrek en sal ons sake agtermekaar kry, duidelikheid kry oor wat ons op die veld wil regkry en ons sterk punte benut. Ek dink die Leeus gaan ’n groot uitdaging bied, maar Suid-Afrika se voorspelers tel ook onder die bestes.”

Kitshoff herhaal die sentiment oor die gehalte van die spelers tot die Bokke se beskikking wanneer die reputasie van die Ierse vaskopstut Tadhg Furlong – moontlik vir hom ’n teenstander in die skrumstryd – ter sprake kom.

Steven Kitshoff (links) vervang vir Tendai Mtawarira in 2019 se Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland in Jokohama, Japan. Regs is Vincent Koch, die plaasvervanger-vaskopstut wat Frans Malherbe se plek geneem het. Foto: Getty Images

“Tadhg het die afgelope paar jaar gewys dat hy ’n baie goeie vaskopstut is. Hy het goed gevaar vir Ierland en voorheen ook vir die Leeus,” sê Kitshoff.

“Ek ken hom al sedert hy 20 is. Ek het destyds vir die SA o.20-span en in my eerste toets teen hom geskrum. Hy is van wêreldgehalte, maar ek wil ook nie ons vaskoppe se gehalte misken nie. Hulle is ook van wêreldgehalte en kan op enige dag die skrumstryd wen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.