Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Ken jy die antwoorde in dié vasvra?
Mike Gibson aan die begin van sy loopbaan as senior rugbyspeler. Foto: Getty Images

Daar het twee dinge gebeur in die reeks tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus in 1968 wat steeds gereeld in herinnering geroep word wanneer sportvasvra-kompetisies gehou word.

Die een ding sal die meeste (ouer) Suid-Afrikaners darem seker onthou.

In watter toets in watter jaar het Frik du Preez sy enigste toetsdrie gedruk?

Die antwoord is natuurlik in die eerste toets op Loftus Versfeld in Pretoria in 1968.

Nou vir die moeiliker vraag: Wie was die heel eerste plaasvervanger wat nóg in toetsrugby gebruik is en wanneer het dit gebeur?

Die antwoord is die Leeu Mike Gibson, in dieselfde toets waarin onse Frik sy wonderlike drie gedruk het.

Mike Gibson het van sy beste vertonings vir die Britse en Ierse Leeus teen die All Blacks gelewer. Foto: Getty Images

Gibson het Barry John in die eerste helfte vervang nadat dié losskakel sy sleutelbeen gebreek het.

Die Bokke het daardie toets met 25-20 gewen en Gibson was op die veld toe onse Frik voor om die lynstaan gebars en doellyn toe gestorm het.

Frik, weet ons almal darem sekerlik, was ons land se Speler van die Eeu.

Gibson self word vandag nog deur kenners gereken as een van die beste agterspelers wat die wêreld nóg gesien het.

Ons het hom egter nooit, en daarvoor moet ons dalk dankbaar wees, op sy beste in ’n toets in ons land gesien nie.

Hy het sy debuut vir Ierland in 1964 op 21-jarige ouderdom teen Engeland gemaak en het in daardie wedstryd omtrent die veld aan die brand gespeel.

Gibson het gewoonlik vir Ierland teen Engeland uitgeblink. Foto: Getty Images

“Ons het met 18-5 gewen, grootliks te danke aan ’n jong losskakel wat sy internasionale debuut vir ons gemaak het. Sy naam was Cameron Michael Henderson Gibson en hy sou een van die beste agterspelers word wat die wêreld nóg gesien het,” het die legendariese Willie John McBride al gesê.

Gibson het in 1966 op sy eerste toer saam met die Leeus gegaan. Dit was na Nieu-Seeland, en hoewel die All Blacks die reeks gewen het, het Gibson baie aandag met sy skitterspel getrek.

Hy is onder andere deur Wilson Whineray, die All Blacks se kaptein, as die beste agterspeler van die Leeus uitgesonder.

In 1968 het Gibson toe saam met die Leeus deur ons land getoer.

Ná Barry John se besering was hy die eerste keuse op losskakel.

Gibson het op daardie toer vir uitsonderlike vertonings teen Transvaal en Noord-Transvaal gesorg, maar kon nie dieselfde hoogtes in die toetse bereik nie.

Hoewel hy vir sy goeie verdediging bekend was, sal Suid-Afrikaners dalk onthou hoe Mannetjies Roux in die vierde toets op Ellispark in Johannesburg vir ’n asemrowende drie soos ’n Mirage verby die Ier gevlieg het.

Gibson is toe in 1971 weer saam met die Leeus na Nieu-Seeland. Dié keer het die Leeus die All Blacks ’n ding of twee gewys en Gibson het op senter uitgeblink.

Met Gareth Edwards op skrumskakel, Barry John op losskakel en John Dawes as sy sentermaat, het Gibson geblom.

* Kyk hier hoe druk Mike Gibson ’n belangrike drie vir Ierland teen Australië in 1967:

“Hy was nog altyd ’n wonderbaarlike speler met uitsonderlike talent, maar in sulke gesiene geselskap, het hy floreer,” het McBride gesê.

Gibson was besig met regseksamens en was aanvanklik nie vir die Leeus se toer in 1974 na ons land beskikbaar nie.

Toe die losskakel Alan Old egter sy been breek, het hy die aanbod aanvaar om ons land weer te besoek.

Die Leeus se agterlyn was egter teen daardie tyd soos ’n geoliede masjien en hy het nie in een van die toetse speelkans gekry nie.

Sy laaste toer saam met die Leeus was in 1977, weer na Nieu-Seeland.

Gibson het eindelik in 12 toetse vir die Leeus gespeel. Vir Ierland was hy 69 keer in aksie.

Die veelsydige Gibson het die meeste van sy toetse as senter of losskakel gespeel, maar het ook ’n paar keer op vleuel uitgehelp.

Sy laaste toets vir Ierland was in 1979 teen die Wallabies, toe hy al 36 jaar oud was.

Willie Duggan, wat daardie dag een van die Iere se losvoorspelers was, het agterna vertel hy het in sy lewe nog nooit iemand soveel op ’n veld sien doen as wat Gibson daardie dag gedoen het nie.

Sedert sy uittrede het Gibson deur die jare nog maar bitter min onderhoude toegestaan.

In 2016 het hy darem ’n slag bietjie met Paul Kimmage van The Independent gesels.

“Ek is heeltemal tevrede om stil met my lewe voort te gaan,” het hy gesê. “Ek kyk steeds rugby, maar voel nie goed genoeg op die hoogte met die moderne spel om my opinie oor spelers se vertonings uit te spreek nie.”

Mike Gibson en Willie John McBride in 2014 in Belfast in Noord-Ierland by die begrafnisdiens van ’n ander Ierse rugbyster, Jack Kyle. Foto: Getty Images

Hy het vertel dat hy in sy speeldae saam met atlete aan sy spoed gewerk het voordat die seisoen begin het. En dat hy voor wedstryde eenkant in die kleedkamer sou sit en visualiseer hoe hy die bal kantlyn toe skop of deur ’n gaping glip.

Hy het gesê dat hy nooit ná die wedstryde een vir ’n paar biere was nie.

“Ek het net nie die toleransie of kapasiteit gehad om te drink nie, maar dit was nooit iets wat tussen my en die ouens gekom het nie,” het hy gesê.

Volgens Gibson sou hy nie vandag ’n beroepspeler wou wees nie, want rugby sewe dae ’n week is vir hom net té veel.

Hy is egter steeds sportmal en bewonder sportlui wat op die hoogste vlak uitblink.

Hy het vertel van die dag toe hy en Gareth Edwards in 1974 in ons land saam met Gary Player ’n rondte golf gespeel het.

“Nou daar is ’n ou wat jou ’n paar geestelike lesse kan leer! Hy was in November (van 2016) 80 jaar oud en hy doen waarskynlik 80 opstote per dag op twee vingers! Hy is so gedrewe en entoesiasties!” het Gibson opgewonde uitgeroep.

Bronne: The Book of Rugby Lists – Norman Giller; The Story of My Life – Willie John McBride; Gareth Edward’s 100 Greatest Rugby Players – Gareth Edwards; Legends of Rugby – Paul Morgan en Alex Mead; Lions in Africa – Chris Schoeman en David McLennan; ESPN; The Independent.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.