Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Kolisi-hulle wil landgenote laat glimlag
Dis nog onduidelik of die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, Suid-Afrika Saterdag in die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus sal kan lei. Foto: Getty Images

Daar word voorspel die besluit om al drie toetse tussen die Springbokke en Britse en Ierse Leeus in Kaapstad te speel, sal ’n deurslaggewende voordeel vir die besoekers wees.

Die lugdruk op die Hoëveld, waar die laaste twee toetse beslis sou word, was veronderstel om ’n bondgenoot vir die Bokke te wees.

Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, sê hulle beskou dit nie as ’n voordeel vir een van die twee spanne nie.

Ons sal graag die toetse wou speel soos wat beplan is, maar ek dink nie dit gee enige span ’n voordeel nie.
Siya Kolisi

“Ons leef in ’n tyd van onsekerheid en ons moet aanpas by alles wat gebeur. Ons sal graag die toetse wou speel soos wat beplan is, maar ek dink nie dit gee enige span ’n voordeel nie.

“Daar word op dieselfde plek voorberei en dit gaan eerder afhang van watter span se plan die beste werk.”

Kolisi het aan die begin van die maand in die toets teen Georgië gespeel, maar hy kon weens ’n positiewe Covid-19-toets nie verlede week vir die Suid-Afrikaanse A-span teen die Leeus op sy pos wees nie.

“Dit was taai om positief te toets, in isolasie te wees en daarna deur die nodige protokol te gaan. Ek was gelukkig in elke spanvergadering (virtueel) en was ten volle by die week se voorbereiding betrokke.

“Ek was ook bevoorreg dat ek nie enige simptome gehad het nie en ek het goed gevoel toe ek weer begin oefen het.”

Toetsrugby is natuurlik nie jou speelmaat nadat jy vir tien dae in ’n hotelkamer afgesonder was nie, maar Kolisi sê hy is nie daaroor bekommerd nie.

“Die afrigters ken my, hulle sal sien wanneer ek begin moeg raak. Hulle ken die tekens en of hulle my in die eerste of tweede helfte afhaal, maak nie saak nie.

“Ek gaan egter alles insit in die tyd wat ek op die veld is.”

Die Springbok-slotte Franco Mostert, Lood de Jager, RG Snyman en Eben Etzebeth pronk met die Webb Ellis-beker ná die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland. Foto: Getty Images

Hoewel die euforie van die Bokke se Wêreldbeker-sukses lank vergete is, wil Kolisi-hulle Suid-Afrikaners weer iets gee om oor te glimlag.

“Dit is asof die land altyd deur ’n moeilike tyd gaan wanneer ons ’n groot toernooi of reeks ingaan.

“Ons is Suid-Afrikaners voor ons Springbokke is en dit wat ’n impak op ons mense het, beïnvloed ons spelers ook.

“Ons gaan alles doen om ons taak so goed moontlik uit te voer, want soos wat coach Rassie (Erasmus) by die Wêreldbeker-toernooi beklemtoon het, is ons baie bevoorreg om in die posisie te wees.

“Hopelik kan ons die land se mense weer vir ’n oomblik van hulle probleme laat vergeet. Ons het almal familie en vriende wat deur ’n moeilike tyd gegaan het of steeds gaan. Dít vuur ons aan.”

Meer oor:  Siya Kolisi  |  Kaapstad  |  Rugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.