Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Fields beskryf Bokke se ‘plan’ in Afrikaans

“Inklim.”

’n Afrikaanse woord wat Vrydag waarskynlik vir die eerste keer in die geskiedenis deur ’n lid van die Britse en Ierse Leeus se afrigtingspan gebruik is voor ’n toets teen die Springbokke. En nie een wat enigiemand sekerlik kon dink ooit sou opduik nie.

Robin McBryde, die Britse en Ierse Leeus se voorspelerafrigter, sê hulle weet wat om in die tweede toets van die Springbokke te verwag. Foto: Gallo Images

Maar Robin McBryde, die toerspan se voorspelerafrigter, het sy huiswerk gedoen oor wat om van die Bokke in die tweede toets te verwag.

“Ek het ’n boek gelees, Ja-Nee, wat vir jou insig bied in die Suid-Afrikaanse perspektief in 1974 se reeks teen die Leeus. Hulle het die eerste toets verloor en die boek deur Dugald Macdonald het verduidelik wat die tweede toets (Saterdag in die Kaapstad-stadion) vir Suid-Afrika sal beteken,” sê hy.

“Hulle is ’n baie trotse nasie en sal alles wat hulle kan ons kant toe gooi. Dis wat ons verwag en waarop ons voorbereid is.”

McBryde dink die keuse van ses voor- en slegs twee agterspelers op die Springbokke se plaasvervangersbank, verklap baie oor die komende aanslag.

“Ons het die impak daarvan by die Wêreldbeker-toernooi gesien,” sê hy.

“Ons was in ons noppies met hoe ons plaasvervangers verlede week vertoon het. Dit het die impak van die Bokke s’n geneutraliseer en ons hoop om dit weer te doen.

“Om terug te verwys na daardie boek: Hulle gaan op die fisieke aspek terugval. Dis wat hulle in 1974 gedoen het nadat hulle die eerste toets verloor het. Daar’s ’n woord daarvoor: ‘inklim’. Die 6/2-bank wys dat dít is wat hulle in die mou voer.”

“Inklim” het die Bokke in 1974 net mooi nêrens gekry nie. Trouens, hulle het die nederlaag van 3-12 in die eerste toets op Nuweland met een van 9-28 op Loftus Versfeld opgevolg.

Robbie Henshaw, binnesenter van die Britse en Ierse Leeus, verloor die bal in die eerste toets in die Kaapstad-stadion verlede Saterdag nadat hy deur die Springbok-heelagter, Willie le Roux, gelak is. Foto: Getty Images

Daar gaan dalk ’n bietjie meer nuanse wees aan hoe 2021 se Bokke op die terugslag van die nederlaag van 17-22 in verlede week se eerste toets reageer.

Robbie Henshaw, die Leeus se binnesenter, glo nie dit gaan só eenvoudig wees as die Springbokke se voorspelers wat net harder as verlede week vir hulle gaan kom nie.

“Ek dink hulle gaan deur emosie gedryf word. Daar was ná die eerste toets reeds stories in die media oor hoe gevaarlik Suid-Afrika met die rug teen die muur is,” sê hy.

“Ons weet dit. Ek het dit persoonlik in 2016 beleef toe ons (Ierland) hulle in die eerste toets geklop het en die Bokke ons in die volgende twee omgedop het om die reeks te wen.”

Henshaw glo die Bokke sal meer fisiek wees, maar ook met iets anders vorendag kom.

“Hulle gaan die bal dalk ’n bietjie meer skuif en hul gevaarmanne meer betrokke wil kry. Ons sal daarvoor gereed moet wees.”

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Kaapstad  |  Britse Leeus  |  Rugby  |  Springbokke  |  Robin Mcbryde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.