Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Jones systap herrie oor Rassie se tirade

Rassie Erasmus se uur lange klaaglied oor blaserflaters in die eerste toets tussen die Springbokke en Britse en Ierse Leeus het die rugbywêreld Donderdag soos ’n atoombom getref, maar as dit die toerspan uit die Noorde gepla het, het hul kaptein, Alun Wyn Jones, dit goed weggesteek.

“Ek het daarvan te hore gekom, maar dit nie gesien nie. Soos jy seker weet, is my fokus tussen wat binne die wit lyne gebeur,” het hy gesê.

Alun Wyn Jones, kaptein van die Britse en Ierse Leeus, sê sy fokus is by wat tussen die lyne van die rugbyveld gebeur en hy steur hom nie aan Rassie Erasmus, direkteur van rugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, se aanlyn tirades nie. Foto: Getty Images

Op die vraag of hy dink Erasmus druk op die wedstrydbeamptes voor die tweede toets probeer plaas, het Jones geantwoord dat hy nie weet nie.

“Jy sal hom moet vra,” het hy gesê.

Dink hy dit sal druk op die wedstrydbeamptes plaas?

“Dis ’n vraag wat jy aan die beamptes moet stel.”

Is dit reg en goed vir die spel dat ’n afrigter die skeidsregters se beslissings bevraagteken?

“Ek dink dit wys hoeveel passie en toewyding daar by mense vir die sport is. Dis nie vir my om kommentaar te lewer oor of die manier waarop dit gedoen is reg of verkeerd is nie,” sê Jones.

Of die Leeus inderdaad meer respek by die wedstrydbeamptes as die Springbokke gekry het in die eerste toets, soos Erasmus in sy video beweer, is ’n vraag wat Jones ook nie in diepte wou beantwoord nie.

“Dis nogmaals ’n vraag vir die beamptes,” het hy gesê.

“Ek het nie gedink dat ons in die hitte van die stryd enige voordeel gehad het nie, want ek het dikwels langs Siya gestaan toe ons met die skeidsregter gepraat het. Oor persepsies van buite kan ek nie kommentaar lewer nie.”

Dat die Leeus nie hul kop in daardie byenes wil druk nie, is seker heel verstaanbaar.

Alun Wyn Jones, kaptein van die Britse en Ierse Leeus, gesels met die wedstrydbeamptes, wie se rug op die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, gekeer is. Foto: Getty Images

Erasmus se punt dat die Leeus met vuilspel weggekom het en die Springbokke onder flaters van die skeidsregter, Nic Berry, deurgeloop het, is duidelik belig. Maar die gevolg hiervan gaan waarskynlik wees dat die Leeus se verhouding met die beamptes versterk is.

Jones verwag intussen dat die Bokke Saterdag ’n groter klem op die vaste fasette sal plaas en graag ook meer lynstane sal wil afdwing. Die Bokke het in die eerste toets slegs vier lynstane op hul eie ingooi gehad en kon daardie faset nie as ’n aanvallende platform gebruik nie.

“Aan ons kant is dit meer ’n geval van beter uitvoering en bestuur van die spel vroeg in die wedstryd,” sê Jones.

“Die Bokke se ses voor- en twee agterspelers op die plaasvervangersbank verklap duidelik dat daar by hulle ’n groter klem op die vaste fasette gaan wees. Daar’s meer voorspelers wat opgestuur sal word om die druk daar te laat oplaai.”

Tadhg Furlong, vaskopstut van die Leeus, verwag ook ’n groter aanslag van die Springbokke.

“Die Bokke is baie goed met wat hulle doen,” sê hy.

“Dit sal my nie verbaas as hulle dit net nog harder gaan doen nie. Hulle het die afgelope ruk min toetsrugby gespeel en het nou ’n grote agter die rug. Dis nou reg of weg vir hulle.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.