Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Leeus glo Gatland gaan ‘laaste lag’

Terwyl die meeste Suid-Afrikaanse rugbygeesdriftiges meen dat Rassie Erasmus verlede week op meesterlike wyse help toesien het dat die Springbokke die bordjies in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus verhang, is daar in die besoekers se kamp ’n sterk geloof dat hul afrigter, Warren Gatland, die breier is wat laaste gaan lag ná Saterdag se beslissende toets in die Kaapstad-stadion.

Gaan dit Warren Gatland (links) of Rassie Erasmus wees wat laaste lag ná Saterdag se derde toets tussen die Springbokke en Britse en Ierse Leeus in die Kaapstad-stadion? Foto: Getty Images

Die Leeus het die eerste toets in die reeks gewen voor ’n opspraakwekkende week, wat sy klimaks bereik het met die Bokke se oorwinning van 27-9. Dít ná ’n video van meer as ’n uur waarin Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, veral Nic Berry – skeidsregter in die eerste toets – se vertoning gekritiseer het.

Vandeesweek het die nuus dat Wêreldrugby Erasmus voor ’n tugverhoor gaan daag, die opskrifte oorheers.

Maar op die agtergrond, by hul luukse basis tussen Kleinmond en Hermanus (die Arabella-gholflandgoed), het die Leeus suutjies aan hul spel geskaaf. En hulle kon nie vir ’n beter poppemeester as Gatland gevra het nie, sê die haker Ken Owens.

“Sy ervaring is yslik en kan aangevoel word,” sê Owens, wat Saterdag sy vyfde toets vir die Leeus speel.

Hul afrigter, Warren Gatland, se aura gee die Britse en Ierse Leeus selfvertroue voor Saterdag se derde toets teen die Springbokke in die Kaapstad-stadion. Foto: Getty Images

“Warren is baie kalm en weet hoe om die beste uit elke individu te haal, of dit ’n klein gesprekkie hier of daar is. Hy tree in en druk ouens in die regte rigting wanneer dit nodig is. Hierdie week was hy op sy beste.”

Min mense sal beter weet hoe goed Gatland onder druk is as Owens. Die 34-jarige haker het sy buiging vir Wallis by 2011 se Wêreldbeker-toernooi onder Gatland gemaak en was ook in die groep vir 2017 se Leeus-toer na Nieu-Seeland. Dáár het die Leeus en die All Blacks die reeks met 1-elk gedeel ná ’n gelykopstryd in die derde toets.

Owens sê die Leeus se selfvertroue het nie ’n knou weg ná hul nederlaag in verlede week se tweede toets nie.

“Die eerste en tweede toets was soortgelyk aan mekaar. In die eerste het ons die wedstryd met ’n sterk tweede helfte gewen en verlede week was dit die Bokke wat dít gedoen het,” sê hy.

“Dis nou ’n geval van vertroue in ons prosesse behou en ons is gereed vir ’n yslike beslissende toets Saterdag,” sê hy.

Indien die Leeus die reeks Saterdag wil beklink, is daar ’n besef dat hulle aansienlik beter sal moet skrum. Owens behoort dit goed te weet, want hy was hul haker op die veld toe die Bokke se skrum in die laaste kwart van die tweede toets die oorhand gekry het.

Ken Owens speel Saterdag in Kaapstad op 34-jarige ouderdom as haker sy vyfde en laaste toets vir die Britse en Ierse Leeus. Foto: Getty Images

Behalwe vir Owens se insluiting in die plek van Luke Cowan-Dickie in die voorry, het Gatland vir Wyn Jones as loskopstut gekies.

Hoe moeilik gaan dit vir hulle in die skrums wees?

“Ons weet wat kom. Dis iets waaruit die Bokke trots put, maar dieselfde geld ons. Ons vaste fasette was die vorige week baie goed. Verlede week het ons kleigetrap en ons weet daar’s dinge om reg te stel,” sê Owens.

“Met my en Wyn se insluiting is daar ’n vars aanslag. Dit gaan ’n yslike uitdaging wees, maar ons het vertroue in mekaar en ons voorry-kombinasie saam met Tadhg Furlong het al vantevore saam geskrum.”

Oor ’n siening van Gatland dat daar bykomende tyd moet wees om ’n reekswenner te bepaal indien die wedstryd ná 80 minute gelykop eindig, sê Jones dat daar nie intern daaroor gepraat is nie.

“Ons fokus op ’n oorwinning. Dis al waarvoor ons hier is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.