Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Leeus-lugoorlog kelder Bokke

Die Springbokke se onvermoë om hangskoppe te bemeester en die Britse en Ierse Leeus se rolmale te stuit het hulle Saterdag die eerste toets in die Kaapstad-stadion gekos.

Met rustyd was dit 12-3 vir die Bokke en jou moeilik om jou enigiets anders in te dink as dat hulle ’n vroeë voorsprong in die reeks gaan neem. Maar die Leeus het van hul diep sluimer ontwaak en met slim skoptaktiek die toets in hul guns geswaai en uiteindelik welverdiend met 22-17 gewen.

Damian Willemse (regs) probeer onsuksesvol met Elliot Daly om ’n hoë bal meeding. Dit was ’n deurlopende tema vir die Springbokke in die Kaapstad-stadion Saterdagaand. Foto: Jaco Marais

Die Leeus was vooraf vol bravade oor hoe hulle hul man teen die Bokke se fisieke spel sou staan, maar is vroeg op die agtervoet gedwing toe Lukhanyo Am vir Elliot Daly in die middelveld katswink geduik het. Om die punt verder te maak, het die Bokke by die eerste skrum reeds ’n strafskop afgedwing.

Daardie houvas was die storie van die eerste helfte. Dan Biggar (losskakel) en Daly (senter) het wel skoppe pale toe verbrou. In Biggar se geval was dit ’n verbasend maklike skop, hoewel dit drie onverdiende punte sou gewees het gegewe dat die blaser, Nic Berry, misgekyk het hoe die Leeus-flank Tom Curry teen die Bok-loskop, Ox Nche, inboor in die vaste skrum. Daly se poging van die middellyn af was ook ietwat oorambisieus.

Aan die Bokke se kant was Handré Pollard in die eerste helfte dodelik akkuraat. Die Bokke het vir meeste van die helfte ’n fisieke houvas op die wedstryd gehad en die Leeus het in die proses swaar geleef by die afbreekpunte.

Terwyl die Bokke 100% gefokus was, het twee oomblikke die Leeus se eerste helfte opgesom – ’n skewe kort ingooi by ’n lynstaan deur Luke Cowan-Dickie en Robbie Henshaw wat kort voor rustyd die bal vorentoe verloor het toe die besoekers uiteindelik daarin geslaag het om ’n bres deur Suid-Afrika se hegte verdediging te slaan.

Om sout in die wond te smeer, het die Bokke in die doodsnikke van die eerste helfte ’n skrumstrafskop gewen.

Willie le Roux duik oor vir ’n drie, wat uiteindelik toe nie toegelaat is nie omdat beslis is dat hy voor die skopper, Lukhanyo Am, was.Foto: Gallo Images

Maar toe kom die tweede helfte en het albei spanne ’n gedaanteverwisseling ondergaan.

Die Bokke het veral gesukkel om die hoë bal te trotseer, terwyl die Leeus die rolmaalbeweging ook met vrug aangewend het. Cowan-Dickie het juis afgerond toe die toeriste aan’t dryf geraak het en met Biggar se doelskop was die verskil skielik net twee punte.

Willie le Roux was nie lank daarna nie oor die Leeus se doellyn, maar daar is beslis dat hy voor die skopper (Am) was – ’n beslissing wat die Bok-kamp dalk warm onder die kraag sal hê. Meer so omdat Marius Jonker, die TV-skeidsregter, gesê het dat hy nie bo alle twyfel kon sê dat Le Roux voor Lukhanyo Am was toe die skop gemaak is nie. Hy het wel bygevoeg dat die vermoede daar is, wat Berry laat besluit het om vir Le Roux te straf.

Damian de Allende is ook oor die doellyn, maar sy drie is ook nie toegeken nie omdat beslis is dat Cheslin Kolbe die bal ’n paar fases terug aangeslaan het. Foto: Jaco Marais

Jonker het wel daarna in Faf de Klerk se guns beslis toe bepaal moes word of Pieter-Steph du Toit die bal in die aanloop tot ’n drie aangeslaan het. Du Toit het die drie uit niks opgetower nie nadat ’n slegte aangee die Bokke onder druk geplaas het.

Maar Wêreldrugby se heersende Speler van die Jaar het met ’n stukkie flink voetwerk die druk verplaas voordat De Klerk die bal op die doellyn by Makazole Mapimpi gekry en oorgebeur het. Pollard kon nie met die doelskop slaag nie.

’n Teleurgestelde Siya Kolisi nadat die Springbokke ’n nederlaag in die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus gely het.Foto: Gallo Images

Dié drie het nie die Leeus van stryk gebring nie en hulle het deur baie eenvoudige maar dodelik effektiewe taktiek daarin geslaag om die Bokke in hul helfte vas te pen.

Suid-Afrika het nie antwoorde op die lugaanval gehad nie, terwyl die Leeus die Bokke ook deur goeie kontinuïteit met die bal in die hand onder druk geplaas het.

Owen Farrell het ’n paar minute voor die einde die laaste sê gehad toe die Bokke ’n rolmaalbeweging onwettiglik gekeer het. Daar was vir die Bokke in die doodsnikke ’n laaste kans met die bal in die hand, maar geen pad deur die Leeus se uitstekende verdedigingstelsel nie.

Puntemakers: Britse en Ierse Leeus 22 (3): Drie: Luke Cowan-Dickie. Doelskop: Dan Biggar. Strafdoele: Biggar (4), Owen Farrell.

Suid-Afrika 17 (12): Drie: Faf de Klerk. Strafdoele: Handré Pollard (4).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.