Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Leeus sal ‘rugby se beste skrum’ moet tem

Hy’s bloot Wyn Jones, nie Alun Wyn nie. Maar al word daar nie soveel oor die Britse en Ierse Leeus se loskopstut as oor hul nr. 5-slot en kaptein gepraat nie, sal hy vir hulle ’n ewe belangrike speler wees in Saterdag se eerste toets teen die Springbokke in die Kaapstad-stadion.

Wyn Jones storm met die bal in die Britse en Ierse Leeus se toerwedstryd teen die Haaie op Loftus Versfeld. Foto: Getty Images

“Daar’s soms misverstande met ons toksakke, maar ongelukkig nie ons kamers in die hotel nie. Hy het steeds die suite en ek die gewone kamer!” sê Wyn Jones met ’n glimlag voordat hy weer norserig verder vrae beantwoord.

Wyn Jones (29) is egter met goeie rede in ’n ernstige luim. Dis sy taak om in die skrums die aanslag van die Springbok-vaskopstut, Trevor Nyakane, af te weer en hom dalk selfs ’n bietjie gas te gee. En hy weet uit ervaring hoe taai ’n kalant Frans Malherbe, die Bokke se plaasvervanger-vaskop, is.

“Hulle is waarskynlik die beste ter wêreld in die skrums. Ek het in die Wêreldbeker-toernooi teen Malherbe geskrum en het die grootste agting vir hom,” sê Jones.

“Suid-Afrika is baie sterk in die skrums en lynstane. Hul lynstaan-statistieke in die Wêreldbeker-toernooi was baie indrukwekkend. Hulle het byna elke bal gewen en hul uitvoering was goed.

“By die skrums werk hulle baie goed as ’n agttal saam. Daar’s nie maklike skrums teen hulle nie. Al agt ken hul rolle en dis waarskynlik wat hulle die beste ter wêreld maak.”

Dis egter ’n uitdaging waarna Jones baie uitsien en ook ’n bietjie persoonlik ná Wallis se nederlaag van 16-19 teen Suid-Afrika in 2019 se Wêreldbeker-halfeindstryd in Jokohama.

“Soos die Suid-Afrikaanse A-span, gaan hulle in die vaste fasette sterk wees. Dis iets waarna jy as ’n voorryspeler uitsien. Suid-Afrika is die beste span ter wêreld en jy wil jouself teen die beste meet.”

Die skrums het in 2009 se reeks ’n groot rol gespeel toe Tendai Mtawarira die Leeus se vaskopstut, Phil Vickery, by etlike geleenthede verfomfaai het.

Maar, sê Jones, daar’s nie intern na daardie wedstryd verwys om die belangrikheid van die skrums te beklemtoon nie.

“Ons kyk nie terug nie,” sê hy.

“Ons fokus op wat nou voor ons is en op wat ons as ’n span saam kan doen. Ons speel volgens ons sterk punte en probeer om hulle s’n hok te slaan.”

Die Leeus sal moed put uit hul goeie skrumwerk in die wedstryd teen die SA A-span. Hulle het die wedstryd met 13-17 verloor, maar het twee strafskoppe by die skrums afgedwing en bo uitgekom in daardie faset.

“Ons was tevrede met ons skrums in die SA A-wedstryd. Ons het by ons prosesse gehou en so gedissiplineerd as moontlik gebly,” sê Jones.

“Dít is waar die groot fokus is – om gedissiplineerd te bly en nie strafskoppe af te staan nie. Dit het vir ons vrugte afgewerp.”

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.