Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Leeu-stut het Bok-slot glo gebyt

Kyle Sinckler, plaasvervanger-vaskopstut van die Britse en Ierse Leeus in die afgelope naweek se tweede toets teen die Springbokke in die Kaapstad-stadion, is diep in die moeilikheid nadat hy vir vuilspel uitgewys is.

Kyle Sinckler word deur Herschel Jantjies vasgevat in Saterdag se tweede toets tussen die Springbokke en Britse en Ierse Leeus in die Kaapstad-stadion. Foto: Getty Images

Luidens ’n verklaring deur Wêreldrugby is Sinckler voor ’n tugkomitee gedaag omdat hy na bewering in die 64ste minuut een van die Springbokke gebyt het.

Volgens Walesonline was Franco Mostert die slagoffer en het die voorval in ’n losskrum plaasgevind.

Sinckler se tugverhoor gaan Dinsdag per videokonferensie plaasvind. Die senior Australiese regspraktisyn Adam Casselden is die voorsitter van die onafhanklike komitee, wat die tugverhoor gaan hanteer. Twee voormalige Australiese toetsspelers – David Croft en John Langford – sal vir Casselden bystaan.

Wêreldrugby het ook bevestig dat daar nie verdere uitwysings sal wees nie. Daar sou in die Bok-kamp kommer gewees het oor ’n moontlike uitwysing vir die vleuel Cheslin Kolbe, maar die uitwysbeampte, die Australiër Scott Nowland, het gevoel dat sy geel kaart 'n voldoende straf was vir die voorval waar hy die Leeus-skrumskakel Conor Murray in die lug gespeel het.

Die Leeus het waarskynlik naels gekou oor ’n moontlike tugverhoor vir Duhan van der Merwe vir ’n boorvat op Pieter-Steph du Toit wat nie gestraf is nie, maar hy het daarmee weggekom. Du Toit is in die proses beseer.

Die Skot Stuart Hogg is ook in sekere kringe daarvan beskuldig dat hy Willie le Roux se arm gebyt het, terwyl die Leeus-slot Maro Itoje sy knie teen Damian de Allende se keel gedruk het.

• Intussen het die Springbokke die Haaie-skrumskakel Jaden Hendrikse opgeroep voor eerskomende Saterdag se derde toets in die Kaapstad-stadion.

“Jaden is ’n talentvolle speler en is sedert ’n jong ouderdom in SA Rugby se junior strukture, so ons is opgewonde om te sien wat hy op hierdie vlak sal kan vermag,” sê Jacques Nienaber, Bok-afrigter.

“Ons is in die vroeë stadium van ’n fisiek uitmergelende seisoen met die Rugbykampioenskap wat volgende week begin, so hierdie is ’n puik geleentheid om hom aan ons strukture bloot te stel en ons terselfdertyd in staat te stel om ons diepte uit te bou met ’n oog op die toekoms.”

Hendrikse sluit hom by Faf de Klerk, Herschel Jantjies en Cobus Reinach as die ander skrumskakels in die groep aan.

De Klerk het die veld Saterdag met ’n heupbesering verlaat, maar behoort fiks te wees vir die naweek se beslissende toets.

Meer oor:  Kaapstad  |  Britse Leeus  |  Rugby  |  Springbokke  |  Vuilspel  |  Franco Mostert  |  Kyle Sinckler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.