Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Leeus wil ook seëvier met hardlooprugby

Die Britse en Ierse Leeus hoop om Saterdag weer eens ’n teenvoeter vir die Springbokke se sterk punte te vind, maar wil die kroon span met ’n bietjie hardlooprugby in die tweede toets in die Kaapstad-stadion.

“Suid-Afrika het strafskoppe afgestaan toe ons die bal deur fases geneem het. Dis iets waarna ons sal kyk – om veral in hul helfte fases te bou,” het Warren Gatland, die Leeus se afrigter, Dinsdag op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê.

Conor Murray sal Saterdag in die tweede toets teen die Springbokke in die Kaapstad-stadion die spel vir die Britse en Ierse Leeus probeer dikteer. Foto: Getty Images

Gatland het vroeër die dag ’n 23-tal aangekondig met drie veranderings aan die beginspan – Chris Harris vir Elliot Daly op senter, Mako Vunipola vir Rory Sutherland op loskopstut en Conor Murray vir Ali Price op skrumskakel.

Ofskoon Price baie goed gevaar het in die oorwinning van 22-17 in die eerste toets, meen Gatland dat Murray ’n beter opsie kan wees in die skaakspel vroeg in die wedstryd.

“Suid-Afrika probeer die punte vroeg opstapel en om dan aan die voorsprong vas te klou. Die eerste 20 minute tot ’n halfuur gaan baie belangrik wees. Ons kan Ali dan opstuur wanneer ons die tempo van die wedstryd wil versnel,” sê Gatland.

Hulle is desperaat om in die reeks te bly en ons het ’n geleentheid om dit te beklink. Ons moet net seker maak dat ons sielkundig gereed is, want jy wil nie die reeks in die weegskaal plaas nie.

Van kritieke belang vir hom is dat die Leeus sterker begin as in die eerste toets, waar hulle teen rustyd met 3-12 agter was.

“Daar’s in die eerste 20 of 30 minute min beweegruimte. Ons het gesien hoe aggressief Suid-Afrika is met die vroeë plettervat op Elliot Daly,” sê Gatland.

“Hulle gaan uiters aggressief wees en die bal sterk dra. Ons moet in die geveg bly. Suid-Afrika speel baie min rugby in hul eie helfte. Dis ’n stryd om veldgebied.

Chris Harris vervang vir Elliot Daly as buitesenter in die Britse en Ierse Leeus se beginspan vir Saterdag se tweede toets in die Kaapstad-stadion. Foto: Getty Images

“As dit met rustyd 6-elk of 9-6 vir ons is, sal ons op ’n goeie plek wees. Maar ’n agterstand van 3-12 en die 3-17 teen die Suid-Afrikaanse A-span sal nie deug nie. Die fokus is om nou sterk te begin en die wedstryd goed te bestuur.”

Oor die Bokke se besluit om ses voorspelers en slegs twee agterspelers op hul plaasvervangersbank te kies, sê Gatland die Leeus het eintlik verwag dat dit verlede week al die geval sou gewees het.

“Dit gaan nie aan hul benadering verander nie. Hulle wil voorlangs fisiek wees en dit voortsit deur vars ouens op te stuur,” sê Gatland.

“Ons moet daarop voorbereid wees. Ek is bly oor ons hantering van die fisieke aanslag en hoe ons onsself ook fisiek laat geld het.”

Gatland sê die Leeus se fokus was “vanuit die staanspoor” om ’n antwoord vir die Bokke se kragspel in die vaste fasette en rolmaalbewegings te hê.

“As jy dit van hulle af wegneem (ons het hulle verlede naweek net vier lynstane gegee), is daar nie juis ’n platform vir hulle om aan te val soos hulle graag doen nie,” sê hy.

Gatland voorspel dat die Bokke “desperaat” gaan wees.

“Hulle is desperaat om in die reeks te bly en ons het ’n geleentheid om dit te beklink. Ons moet net seker maak dat ons sielkundig gereed is, want jy wil nie die reeks in die weegskaal plaas nie. Ons moet die geleentheid benut.”

Britse en Ierse Leeus: Stuart Hogg, Anthony Watson, Chris Harris, Robbie Henshaw, Duhan van der Merwe, Dan Biggar, Conor Murray, Jack Conan, Tom Curry, Courtney Lawes, Alun Wyn Jones (k), Maro Itoje, Tadhg Furlong, Luke Cowan-Dickie, Mako Vunipola. PLAASVERVANGERS: Ken Owens, Rory Sutherland, Kyle Sinckler, Tadhg Beirne, Taulupe Faletau, Ali Price, Owen Farrell, Elliot Daly.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.