Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Morné sal Bokke gemoedsrus gee, glo Ruan

Ruan Pienaar is bly die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus in 2009 word onthou vir Morné Steyn se beroemde strafdoel en nie vir sy skopwerk wat daardie dag nie te waffers was nie.

Die Springbokke vier fees nadat Morné Steyn in 2009 op Loftus Versfeld die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus met ’n langafstand-strafdoel beklink het. Foto: Gallo Images

Steyn het in dié toets op Loftus Versfeld in die 80ste minuut van agter die middellyn aangelê pale toe vir ’n skop wat sou bepaal of die Springbokke die reeks met 2-0 wen.

Die Leeus se hoop om gelyk te trek in die reeks van drie toetse, is sekondes later deur Steyn se akkurate kanonvoet verydel.

Pienaar het die toets op losskakel begin en is in die 61ste minuut deur Steyn vervang.

Die kaptein van die Cheetahs, wat in 2015 sy laaste van 88 toetse vir Suid-Afrika gespeel het, sê skertsend dit was een van daardie skoppe “wat ’n ou eerder van die kantlyn af wil dophou”.

Die spel kan soms wreed wees wanneer die uitslag in ’n belangrike wedstryd van ’n stelskop afhang. Al die druk is op een speler.

“Jy is partykeer die held en ander kere maak jy dit nie.

“Ek dink daai skop sal nog lank onthou word as een van die hoogtepunte in Springbok-rugby.

“Morné het destyds by die Bulle baie hard saam met Vlok Cilliers gewerk aan sy skopwerk en hy het nog altyd sy tegniek vertrou wanneer daar groot druk is.”

Ruan Pienaar op die aanval vir die Cheetahs in die Curriebeker-kompetisie. Foto: Gallo Images

Pienaar sê hy is verheug dat Steyn Saterdag die kans kry om 12 jaar later weer in ’n toets teen die Leeus te speel.

“Daar is nie baie spelers wat dit al vermag het nie. Morné is ’n groot vriend van my en ek is baie bly vir hom.

“Sy insluiting is welverdiend ná die uitstekende spel wat hy die laaste ruk vir die Bulle gelewer het.”

Steyn is as een van die Bokke se plaasvervangers gekies in Lood de Jager se plek. De Jager is na die beginspan bevorder en omdat daar hierdie week net vyf voorspeler-plaasvervangers op die Bokke se bank is, was daar ’n bykomende plek vir ’n agterspeler.

“Ek dink dit moet die Bokke se afrigtingspan baie gemoedsrus gee om Morné op die bank te hê.

“As daar iets met Handré Pollard sou gebeur, is hy die perfekte ou om hom mee te vervang.

“Daar is ook twyfel oor Damian Willemse se betroubaarheid met sy stelskoppe en met Morné op die bank, kan Damian net op sy spel fokus.”

Pienaar sê die skrumskakel Faf de Klerk se besering is ’n groot slag, maar die Springbokke het in Cobus Reinach ’n baie waardige plaasvervanger.

“Ons almal weet hoe belangrik Faf vir die Bokke is en dit is nooit ideaal om ’n invloedryke speler soos hy te verloor voor so ’n belangrike toets nie.

“Cobus is egter al lank in die stelsel, hy is vinnig en het die X-faktor. Dit is ’n groot toets vir hom en hy het beslis die temperament vir sulke wedstryde.”

* Kyk: Die laaste vyf minute van die epiese tweede toets in 2009:

Meer oor:  Morné Steyn  |  Ruan Pienaar  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.