Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
'n Springbok met bek én binnegoed

Oordonderend – en soveel so dat die Britse en Ierse Leeus gister oorbluf en verslae was. En die Springbokke se Bomb Squad het iets ysliks ge- boem!

’n Oorwinning van 27-9 is dêm oortuigend en die Bokke sal vol selfvertroue opruk vir die derde en beslissende toets Saterdag in Kaapstad. Veral nadat hulle rustyd met 6-9 agter was. Daarna was dit egter eenrigtingverkeer en die Wêreldkampioen het sy teenstanders in byna elke faset van die spel oorrompel.

Soveel so dat die Leeus geen antwoord op die Bokke se fisiekheid gehad het nie.

Makazole Mapimpi nadat hy Suid-Afrika se eerste drie gedruk het. Lukhanyo Am en Franco Mostert vier saam met hom fees. Foto: Gallo Images

Die afbreek van die Leeus se selfvertroue, nadat hulle die eerste toets beklink het, het reeds in die eerste minute begin. Die Bokke het die pas vroeg aangegee wat betref fisiekheid en die opdra van die bal. Die Leeus moes vroeg harde duikslae maak en dit het stadig maar seker sy tol op die spelers begin eis.

Daar was sommer vroeg ook al tekens van fisieke intimidasie. Die Bok-ysterslot Eben Etzebeth het gewals met die Leeus-kaptein, Alun Wyn Jones, terwyl hy en die ander Leeus-slot, Maro Itoje, mekaar ook rondgepluk het.

Ben O’Keeffe, skeidsregter, het ook dié handsakswaaiery vroeg aangespreek, maar dit het nie die fisiekheid voorkom nie.

Wat die tuisspan gister ook beter gedoen het, is om die lugskoppe van die Leeus met lof te trotseer. Toe dié wapen geneutraliseer is, het hulle geen ander antwoord gehad nie.

Ondanks al die geraas wat in die week van die veld af gemaak is, het die Springbokke by hul kaptein, Siya Kolisi, se woord gehou dat hulle oorgehaal is om hulself op die veld te laat geld.

Dalk moet die span vanaand ook ’n bier of twee op die 62 minuut lange video van Rassie Erasmus klink. Want nie net kan die Springbokke tevrede voel én dalk gelukkig ook met O’Keeffe se vertoning nie, dit lyk boonop ook of die Leeus hopeloos te veel daarna gekyk het.

Erasmus verdien dalk ’n Oscar vir beste byspeler in ’n drama vir daardie video en hoe hy die Bok-span gehelp het om regverdig behandel te word.

Die Bokke se twee drieë, deur Lukhanyo Am en Makazole Mapimpi, was puik. Albei het gekom vanaf skoppe – ’n wapen wat die tuisspan gisteraand met welslae ingespan het.

Handré Pollard, Springbok-losskakel, was as generaal puik in sy 51ste toets. Nie net het hy takties goed geskop nie, maar sy skopvoet pale toe het bygedra tot die groot sege.

Lukhanyo Am duik op die bal vir sy drie. Foto: Gallo

Mapimpi en Am was ook weer uitstekend met eersgenoemde wat oral oor die veld gaan werk soek het en selfs sy lyf baljagter gehou het. Dis hy wat ’n Pollard-dwarsskop opgevolg het om te druk.

Am is met sy harde lakwerk die spilpunte van die Bokke se verdediging.

Hy het elke keer gesorg dat ’n moontlike Leeus-aanval in die kiem gesmoor word met die wyse waarop hy in die agterlyn verdedig het. Am het ook puik ’n rolskop van Faf de Klerk, Springbok-skrumskakel, opgevolg om sy drie te druk.

Kolisi kan ook heel tevrede met sy vertoning voel. Sy leierskap, met die span se rug teen die muur, het puik deurgekom en sy stem was beslis gehoor. Kolisi was oral op die veld en het ’n staande applous gekry toe hy uiteindelik ruskans gekry het.

Dan moet die Bok-pak met hul skrums en rolmale ook ’n pluimpie kry. Hul gesukkel in die eerste toets was iets van die verlede. Die Leeus het lekker klippe gekou. By skrumtyd het die voorry van Steven Kitshoff, in sy 50ste toets as loskop, saam met die haker, Bongi Mbonambi, en Frans Malherbe die Leeus pal laat les opsê.

Terwyl die Leeus in die eerste helfte die Bokke onder druk geplaas het en drie strafdoele kon melk, het die besoekers nie veel anders gebied as die lugskoppe wat die skrumskakel, Conor Murray, en losskakel, Dan Biggar, heeltyd die Kaapse naglug ingestuur het nie. Dat die tuisspan hulle ook punteloos in die laaste 40 minute gehou het, wys hoe planloos die toerspan uiteindelik was.

Dit sal egter nie verbaas as die besoekers vandeesweek mor oor die vertoning van die wedstrydbeamptes nie. Daar was ’n paar gevalle waar duikslae op hul spelers deur die Springbokke dalk ’n swaarder straf moes kry, maar dit het nie gebeur.

Maar desondanks het Warren Gatland se span, veral in die tweede helfte, geen weerstand gebied teen die fisieke oorheersing van die wêreldkampioen nie.

Nou is die vooruitsig vir Saterdag ’n beslissende toets tussen die Springbokke en Leeus met albei spanne wat die week alles in die stryd sal werp om die oorhand voor die afskop te kry.

Meer oor:  Kaapstad  |  Tweede Toets  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.