Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
‘Gatland weet hoe om teen Bokke te wen’

Die Springbokke kan nie die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus heeltemal verroes ingaan nie en daar word daarna gekyk om ’n toets of twee te reël.

Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, het vroeër die week een van die Stormers se oefensessies bygewoon. Foto: Gallo Images

Jacques Nienaber, die Bokke se hoofafrigter, sê hy weet sy span het blootstelling op toetsvlak nodig voordat die Leeus in Julie en Augustus in ’n reeks van die toetse aangedurf word.

“Ons laaste toets was op 2 November 2019, so dit is iets waarna ons kyk,” het hy Donderdagaand in ’n onderhoud op SuperSport gesê.

Daar was vroeër die jaar planne vir ’n toets teen die Amerikaanse Eagles, wat deur Gary Gold, ’n voormalige hulpafrigter van die Bokke, afgerig word.

Loftus Versfeld sal glo vir die toets, die eerste een in die geskiedenis op tuisbodem teen die Yanks, gasheer speel.

Nienaber, wat aan die begin van verlede jaar as Rassie Erasmus se opvolger aangewys is, sê intussen die Leeus-breier, Warren Gatland, weet hoe om die Springbokke uit te oorlê en gaan ’n gedugte teenstander wees.

“Ek weet een ding, en dit is dat Warren sy huiswerk sal doen.

“As jy kyk in die (onlangse) verlede, is Wallis ’n span teen wie ons gesukkel het.

“Ons het hulle in die kwarteindronde van 2015 se Wêreldbeker-toernooi geklop, en toe eers weer in die halfeindronde van die 2019-toernooi in Japan.”

Die Drake, met Gatland as afrigter, het Suid-Afrika tussen dié Wêreldbeker-toernooie vier keer (drie keer in Cardiff en een keer in Washington) geklop.

Beteken dit Gatland sal die Leeus se aanslag bou op die Wallis-bloudruk waarmee hy soveel welslae behaal het?

“Dit is moeilik om te sê. Hy het verskillende speelstyle gehad het met die Leeus se vorige twee toere (in 2013 en 2017) en hy was met albei suksesvol.”

Nienaber sê hy glo die Leeus sal hoogs gemotiveerd wees om ’n “driekuns” te behaal nadat hulle die Wallabies in 2013 geklop het (2-1) en in 2017 die louere (1-1) met die All Blacks gedeel het.

Hoewel hy en sy afrigtingspan nou in groot besonderhede kan kyk na die 37 spelers in Gatland se groep, wat Donderdag aangewys is, is die onus eerder op die Bokke om die regte groep spelers te kies, sê Nienaber.

“As jy kyk na verlede naweek se wedstryde in die Reënboogbeker-kompetisie, sal jy sien die intensiteit was ’n trappie hoër.

“Ons het baie goeie verhoudinge met ons franchises, wat ons toelaat om die spelers te ontmoet. Dit is verblydend om te sien hoe hard die spelers werk en hoe hulle aandag gee aan die dinge wat ons op die belyningskampe bespreek het.

“Ek dink ons het nou minder as 80 dae oor voordat ons teen die Leeus speel en die afrigters en spelers moet elke sekonde gebruik om seker te maak dat ons goed voorbereid vir die reeks is.”

Nog ’n belyningskamp sal later vandeesmaand gehou word en die spelers sal hulle in Junie, soos hulle in pas met Wêreldrugby se regulasies vrygestel word, by die Bokke se voorbereidingskampe aanmeld.

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Warren Gatland  |  Springbokke  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.