Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Nienaber gee toe hy’t takties fouteer

Die Springbokke was Saterdag swak in die tweede helfte teen die Britse en Ierse Leeus, maar hy het ook taktiese blapse gemaak, het die Bok-hoofafrigter, Jacques Nienaber, Dinsdag erken.

Hy loop nou die gevaar om – soos Carel du Plessis in 1997 – sy termyn met ’n ongewenste reeksnederlaag teen die Leeus te begin, maar Nienaber is vol vertroue dat sy span komende Saterdag die bordjies kan verhang.

Jasper Wiese dra Saterdag die Springbokke se nr. 8-trui in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus. Foto: Gallo Images

“Ek was waarskynlik nie takties skerp genoeg nie, byvoorbeeld met Kwagga (Smith) onder die hangskoppe.

“Dit is iets waarna ek beter kon gekyk het en ek het hom in die steek gelaat in dié opsig.”

Hoewel Smith, volgens Nienaber, nie die span in die steek gelaat het nie, is hy sy plek in die opdrafspan kwyt, tot voordeel van Jasper Wiese.

Die Springbok-breier sê ongeag die ontwrigting wat hulle in die aanloop tot die toetsreeks gehad het, het hulle in die eerste toets met net vyf punte tekort geskiet.

“Ek weet ons sal (in die tweede toets) beter voorbereid wees om daardie vyf punte te kry wat nodig was.

“Ons was ongelukkig dat ons drie keer oor die doellyn is, maar net een drie gedruk het.

“Ek is oortuig die ouens sal nie weer in die tweede helfte stoom verloor nie.”

Hy sê die Springbokke was kwesbaar in die lug, nadat hulle in die eerste helfte die oorhand gehad het met hul hoë skoppe.

Saterdag sal die tuisspan vir die volle duur van die toets fokus moet behou, beklemtoon Nienaber.

Hy het ses voorspelers op die plaasvervangersbank gekies, ’n taktiek wat in 2019 in die Wêreldbeker-toernooi groot welslae meegebring het.

Steven Kitshoff keer in die voorry terug vir sy 50ste toets in Ox Nche (nekbesering) se plek.

Nienaber sê Nche is voor rustyd in ’n skrum beseer en hy het nie voldoende herstel nie.

Trevor Nyakane maak aan die ander kant van die skrum plek vir Frans Malherbe.

Die 25-jarige Wiese speel in sy tweede toets, maar dit is sy buiging in die beginspan.

“Jasper was altyd deel van ons planne en hy het in die toets teen Georgië gespeel. Daar sal van Jasper verwag word om, soos Kwagga Saterdag, momentum te kry en te stuit.

“Hy was naby aan die span vir die eerste toets en hy het nou ’n ekstra week se voorbereiding saam met ons gehad om gewoond te raak aan ons omgewing en hoe ons dinge doen.

“Dit gaan lekker wees om te sien hoe Jasper in ’n groot toets soos dié sal vaar. Kwagga sal dan gebruik word vir sy vaart en effek wat hy bied.”

Is Wiese dalk nader aan ’n geskikte plaasvervanger vir Duane Vermeulen?

“Wanneer ’n speler in ’n Wêreldbeker-eindstryd as die Speler van die Wedstryd aangewys word, weet jy hy is van wêreldgehalte.

“Kwagga is ook ’n uitstekende speler en Jasper het in Engeland gewys wat hy bied.”

Met net twee agterspelers op die bank, sal Damian Willemse op losskakel, senter en heelagter moet instaan sou die nood druk.

Dit is dieselfde rol wat Frans Steyn in die Wêreldbeker-toernooi gehad het.

Die baljagter-flank Marco van Staden vervang Rynhardt Elstadt op die bank nadat die Leeus by die afbreekpunte oorheers het.

Hy sal waarskynlik in die tweede helfte dieselfde rol vervul as wat Francois Louw tydens die WB-toernooi in 2019 met groot onderskeiding het.

Die Springbok-span is: Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Jasper Wiese, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Malcolm Marx, Trevor Nyakane, Vincent Koch, Lood de Jager, Marco van Staden, Kwagga Smith, Herschel Jantjies, Damian Willemse.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.