Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Nou’s die Britse Leeus teen die toue

Dit het die Springbokke ’n goeie 140 minute se rugby gevat om die enjin op te warm en toe dít gebeur, het die Britse en Ierse Leeus geen teenvoeter vir die wêreldkampioen se kragspel gehad nie.

Lood de Jager, slot van die Springbokke, verseker Saterdagaand besit vir sy span in ’n lynstaan in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus. De Jager het ’n groot impak in die tweede helfte gehad. Foto: Gallo Images

Nou is die Leeus, wat verlede week in die eerste toets oorheers het, teen die toue en die reeks met 1-1 gelykop.

Die annale wys dit is een van dié gevierde toerspan se grootste loesings nog in ’n tweede helfte.

Die Leeus het teen rustyd nog ’n voorsprong van 9-6 gehad, maar die Bokke het daarna 21 onbeantwoorde punte in die Kaapstad-stadion ingeryg (vir ’n sege van 27-9).

Die Leeus het in 2001 in die tweede toets teen die Wallabies 29 punte afgestaan en net drie punte by hulle rustydtelling gevoeg.

In 2005 het die All Blacks – ook in die spanne se tweede toets – die tweede helfte met 27-5 oorheers.

Jacques Nienaber, die Bok-afrigter, het Saterdagaand gesê sy span het beter by die aanslag aangepas wat die besoekers gehad het.

In groot kontras met die Leeus, wat in die eerste toets ’n sterk eindpoging gelewer het in die tweede helfte, was die Springbokke se sogenaamde “Bomb Squad” onstuitbaar.

Die plaasvervanger-voorry, Trevor Nyakane, Malcolm Marx en Vincent Koch, het die Leeus voos geskrum en Marx was ook by die afbreekpunte bedrywig.

Lood de Jager het, nadat hy Jasper Wiese in die 55ste minuut vervang het, gehelp om die Bokke momentum in die lynstane te gee.

Dit is lekker om met so ’n groep spelers te werk.
Jacques Nienaber

Die Leeus se impakspelers in die agttal, Ken Owens, Kyle Sinckler, Rory Sutherland, Tadhg Beirne en Taulupe Faletau, het hulle in ’n omgekrapte Springbok-pak vasgeloop.

Nienaber het sy spelers geloof vir die durf wat hulle onder groot druk gewys het.

“Dit is ongelooflik om sulke leiers met soveel ervaring te hê. Ons het verlede week ’n 50ste toets gehad (Handré Pollard) en hierdie week ook met Kitsie (Steven Kitshoff),” sê hy.

“Sulke mylpale is waardevol. Ons het verlede week die skopstryd verloor en die planne en kreatiwiteit wat die spelers die afgelope week gehad het om dit reg te stel, was ongelooflik. Dit is lekker om met so ’n groep spelers te werk.”

Kitshoff sê Nyakane het uitstekend gevaar nadat hy hom halfpad deur die tweede helfte aan die loskopkant vervang het.

Nyakane is die laaste paar seisoene ’n spesialis-vaskopstut, maar dit het hom nie afgeskrik toe hy in die voorry gaan sak het nie.

“Trevor was ongelooflik in die skrums en hy het die aanpassing maklik gemaak,” sê Kitshoff.

Daar was vooraf voorspellings dat die Leeus die toetsreeks met 3-0 sal wen, maar ná dié skittervertoning is die vraag nou hoe ’n groot knou in selfvertroue Alun Wyn Jones-hulle gely het en hoe hulle in die beslissende derde toets teen die Bomb Squad staande gaan bly?

* Hoogtepunte van die tweede toets:

Meer oor:  Kaapstad  |  Britse Leeus  |  Jacques Nienaber  |  Lood De Jager  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.