Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Ollie reken Rassie het slinkse stutplan

Moenie verbaas wees as die Springbokke Saterdag met ’n slinkse stutplan vorendag kom in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad nie.

Die Cheetahs se stutvyftal wat die Curriebeker-reeks in 2005 teen die verwagtinge in vir die Vrystaat help wen het, CJ van der Linde, Jannie du Plessis, Ollie le Roux, Os du Randt en Wian du Preez. Foto: Gallo Images

So het die gewese Bok-stut Ollie le Roux gesê toe hy om kommentaar genader is oor die Bok-afrigtingspan se besluit om die vaskoppe Trevor Nyakane en Vincent Koch as die plaasvervanger-stutte te kies. Steven Kitshoff en Frans Malherbe, wat verlede week op die bank was, is dié keer die stutte in die opdrafspan.

Nyakane het verlede week op vaskopstut begin, maar bied dié week dekking op loskop omdat Ox Nche beseer is. Koch is ook ’n vaskop.

Le Roux, wat in sy speeldae op nrs. 1, 2 en 3 kon sak, reken Nyakane kan dalk tóg ’n verskyning op vaskop liewer as loskop maak.

“Moenie verbaas wees as jy elke vaskop vir 25 minute lank op die veld sien nie . . . Dit kan gebeur, soos ek vir Rassie (Erasmus) ken. Dit sal ’n slim plan wees,” sê Le Roux.

“Ek sal verbaas wees as Frans die eerste helfte klaarmaak. Ek vermoed hy sal so 30 minute speel, voordat Trevor opgestuur word vir die laaste tien minute en die eerste 15 minute van die tweede helfte. Daarna sal Vincent opkom. Kitshoff is sterk genoeg om 80 minute te speel.”

Trevor Nyakane is Saterdag die Bokke se plaasvervanger-loskopstut. Foto: Gallo Images

Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, het so ver terug as 2005 reeds met stut-truuks vorendag gekom. As hoofafrigter van die Cheetahs het ’n 33-jarige Erasmus daardie jaar vyf stutte – Wian du Preez en Jannie du Plessis in die beginspan, met Le Roux, Os du Randt en CJ van der Linde op die bank – vir die Curriebeker-eindstryd teen die Blou Bulle gekies. Destyds was daar net sewe plaasvervangers, van wie net een gewoonlik ’n stut was, anders as vandag, waar spanne ’n blinknuwe voorry op die bank moet kies.

Erasmus se plan het gewerk – die Vrystaat het die Curriebeker vir die eerste keer sedert 1976 gewen, teen alle verwagtinge in.

Le Roux lag toe hy terugdink aan daardie plan: “Daardie dag het ek loskop, loskop, haker en toe vaskop gespeel!”

As Le Roux se vermoede verkeerd is en Nyakane word wel as loskop opgestuur, glo hy ook nie dit sal ’n probleem wees nie.

“As jy die week voor die tyd daarvoor voorberei, is dit gewoonlik nie ’n kwessie nie. Dan is dit darem nie ’n geval dat jy op die ingewing van die oomblik van loskop na vaskop moet skuif nie, want dan vat dit jou twee of drie skrums om weer aan die gang te kom,” sê hy.

Vincent Koch sit op die plaasvervangersbank vir Saterdag se tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus. Foto: Gallo Images

“As jy voorberei, tel jy darem maklik jou ou truuks weer op.”

Sy gewese spanmaat Van der Linde, wat ook aan albei kante kon sak, is dit met hom eens.

“Dis ’n bietjie moeiliker om van loskop af vaskop toe te skuif. Die skuif van vaskop na loskop is heelwat makliker,” sê Van der Linde.

Hy glo nie Nyakane sal sukkel nie.

“Hy sal nie probleme hê om aan te pas nie; hy het ook al loskop gespeel voordat hy vaskop toe geskuif het.”

Hoewel Nyakane deesdae amper uitsluitlik vaskop speel, het hy ook al gewys wat hy in die nr. 1-trui kan verrig.

In die Curriebeker-halfeindstryd in 2018 tussen die Blou Bulle en die Westelike Provinsie het hy op loskop vir die Bulle uitgedraf . . . en sommer 100 minute lank in daardie posisie gespeel. Daardie halfeindstryd is eers in bykomende tyd beslis en Nyakane was enduit op die veld.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Britse Leeus  |  Ollie Le Roux
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.