Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Rassie: Bok-groep 99% gekies

Die Springbok-groep vir die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus is 99% gefinaliseer en sal aanstaande Saterdag aangekondig word.

’n Groep van 45 spelers sal aangewys word, insluitend spelers wat op 14 Julie vir ’n Suid-Afrikaanse “A”-span teen die Leeus sal speel, het Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, Vrydag gesê.

Die slegte nuus is dat Springbokke soos Lood de Jager en RG Snyman in ’n wedloop teen tyd is om betyds van hul beserings te herstel.

Erasmus sê van die spelers wat in Japan speel, het hulle reeds by die groep aangesluit, terwyl ander oorsese Bokke in Suid-Afrika sal aankom soos hul klubs in die Franse Top-14, Engelse Premierliga en in die Europese Reënboogbeker-reeks uitgeskakel word.

Die Bok-kolos RG Snyman is in ’n stryd teen tyd gewikkel om sy fiksheid te herwin voordat die reeks teen die Britse en Ierse Leeus in Julie begin. Foto: Getty Images

Erasmus sê hoewel van hom verskil sal word, is dit voordelig vir Suid-Afrikaanse rugby dat so baie van sy spelers te midde van die Covid-19-pandemie oor die wêreld heen speel.

“Veral as jy dink waardeur ons plaaslike spelers is wat weens Covid-19 teen mekaar moet speel. Ek glo ons is gelukkig in daardie opsig, want ons sou byvoorbeeld nie iemand soos Jasper Wiese gehad het, wat vir Leicester so sterk op die voorgrond getree het, nie.

“Twee van ons spelers het die Europese Kampioenebeker gewen (vir Toulouse), Cheslin Kolbe en Rynhardt Elstadt, en ek is baie seker van ons spelers sal ook in die Premierliga-eindstryd speel.

Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, sê dis voordelig vir die nasionale span dat so baie van sy spelers oorsee meeding. Foto: Gallo Images

“Talle van ons spelers was lekker op dreef in Japan en Damian (de Allende) vaar regtig goed by Munster.”

Daar word wel ook nuwelinge onder die plaaslike talent oorweeg, het Erasmus verklap.

“’n Ou voel jammer vir iemand soos Salmaan Moerat (nekbesering). Hy het goed gevaar en ons was so opgewonde oor hom.

“(Sikhumbuzo) Notshe het ook goed gespeel.”

Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, sê buiten die drie Wêreldbeker-Bokke wat sedertdien uitgetree het (Tendai Mtawarira, Francois Louw en Schalk Brits), is al die ander 30 spelers in die wedloop om teen die Leeus te speel.

Hoe benader hy die balans in spankeuses tussen spelers wat in Japan die Webb Ellis-trofee verower het en spelers vir die toekoms?

“Ons strategiese doelwit is altyd eerstens om te wen, dan om transformasie voorop te stel en derdens om die diepte in ons groep uit te brei.

“Ons streef na ’n balans waarmee ons al drie doelwitte kan bereik.”

Die Springbok-afrigtingsgroep sal ook oorhoofs die SA “A”-span kies en afrig.

Erasmus sê die groep van 45 sal nadat die naasbestes teen die Leeus gespeel het waarskynlik tot ’n groep van 37 of 35 gesny word, afhangend van beserings.

• Die twee opwarmtoetse teen Georgië sal op Vrydagaande – 2 en 9 Julie – gespeel word sodat dit nie die volgende dag met die wedstryde van die Leeus oorvleuel nie.

Die Leeus speel op 3 en 10 Julie teen onderskeidelik die plaaslike Leeus en die Bulle.

Dit is nog nie bekend waar die twee toetse teen Georgië gespeel sal word nie.

• ’n Suid-Afrikaner, Hanlie Fouché, is intussen in die Leeus se mediese groep vir die toer ingesluit.

Sy werk as ’n “sagteweefsel-terapeut” vir die Walliese Rugbyunie en sal in dieselfde hoedanigheid vir dié toerspan diens doen.

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Springbokke  |  Rassie Eramus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.