Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
‘Beamptes respekteer nie Bokke’

Rassie Erasmus voel die wedstrydbeamptes het die Springbokke, en in die besonder hul kaptein, Siya Kolisi, met minder respek as die Britse en Ierse Leeus behandel in Saterdag se eerste toets in Kaapstad.

’n Video waarin Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, meer as 20 besware teen die wedstrydbeamptes lys, het Dinsdag opslae in die rugbywêreld gemaak.

Die skeidsregter in die eerste toets, Nic Berry van die Australië, loop veral erg deur.

Erasmus wys bykans 36 videogrepe uit die toets en belig voorvalle van onbestendigheid en 50/50-beslissings wat gereeld in die Leeus se guns geneem is.

Een van sy grootste kwelpunte is wat hy beskou as ’n gebrek aan respek vir die Bokke.

“Ons het gevra dat die skeidsregter ons net soveel respek moet betoon as vir die Leeus,” sê Erasmus vroeg in sy uur lange video.

Hy verwys dan na verskeie voorvalle waaruit dit vir hom duidelik blyk “daar was ’n groot verskil in wie ernstig opgeneem is en wie nie”.

LEES OOK: Rassie ‘sal wegstap’ as hy moet ná skokvideo

Die eerste voorval is die skeidsregters se optrede ná Damian de Allende se “drie” laat in die wedstryd, wat nie toegeken is nie omdat Cheslin Kolbe die bal in die lug aangeslaan het.

’n Videogreep wys hoe Berry na Alun Wyn Jones, die Leeus se kaptein, luister terwyl die speler die beamptes vra om te kyk of Kolbe nie die bal aangeslaan het nie.

Kolisi loop dan nader om te vra dat Berry en sy assistente, Mathieu Raynal en Ben O’Keeffe, ook kyk na moontlike vuilspel omdat Elliot Daly vir Makazole Mapimpi probeer terughou het terwyl hulle die bal agternagesit het.

Elliot Daly hou vir Makazole Mapimpi terug. Foto: Skermgreep

“Siya word weggewys, maar hulle luister na Alun Wyn en hy bly net daar staan,” sê Erasmus.

In nog ’n voorbeeld lag Berry vir Kolisi.

Dít terwyl Kolisi se vertolking van die betrokke reël 100% reg was. Robbie Henshaw het ’n bal in die lug vorentoe verloor en Duhan van der Merwe, wat voor Henshaw was, het die bal vanuit ’n onkantposisie gespeel.

Volgens die reëls moes dit ’n strafskop vir Suid-Afrika gewees het, maar Berry het net ’n aanslaan toegeken, wat Kolisi wou betwis – net om uitgelag te word.

“Die (tekort aan) respek wat die beamptes vir die Bok-spelers betoon het, is eintlik komieklik as jy dit vergelyk met dít wat hulle die Leeus betoon het. Ons het dit gesien kom en dit probeer keer, maar het dit duidelik nie reggekry nie.”

Erasmus het nege voorbeelde van moontlike vuilspel aan die kant van die Leeus uitgewys wat óf ongesiens verbygegaan het óf net met ’n strafskop gestraf is.

Hamish Watson se boorvat op Willie le Roux Foto: Skermgreep

Onder dit tel Hamish Watson se boorvat op Willie le Roux, waaroor Erasmus sê: “Dit is verstommend. Ek het in die laaste vyf jaar nie een so ’n voorval gesien wat nie minstens ’n geel kaart was nie.”

Tom Curry het vir Faf de Klerk ook vroeg in die wedstryd sonder die bal geskouerloop. Dit was slegs ’n strafskop.

Die eerste videogreep wat Rassie Erasmus in sy video uitgewys het, is hoe Tom Curry vir Faf de Klerk laat skouerloop. Foto: Skermgreep

“Die vraag is net: As óns dit doen, sal dit net ’n strafskop wees? Maar oukei, ons aanvaar dit, ons weet nou ons kan ’n ou laat met die skouer loop en dit sal net ’n strafskop wees.” (Hy bieg aan die einde dat hy met tye in die video sarkasties was.)

In nog voorvalle van vuilspel wat ongestraf gelaat is, maak Curry Mapimpi van ’n onkantposisie af skoon by ’n losskrum (en boonop op ’n gevaarlike wyse), terwyl Van der Merwe ook vir Mapimpi met ’n boorvat skoonmaak by ’n losgemaal.

Duhan van der Merwe boorvat vir Makazole Mapimpi in ’n poging om hom skoon te maak by ’n losgemaal. Foto: Skermgreep

Erasmus wys ook ’n ander onbestendigheid uit – ’n sogenaamde “veiligheidsgordel-duikslag” deur Bongi Mbonambi met sy arm om Jones se skouers (soos ’n veiligheidsgordel om ’n insittende in ’n motor) word gestraf, maar nie wanneer Conor Murray en Owen Farrell vir De Allende in dieselfde greep beetkry nie.

Kwagga Smith word ook gestraf wanneer hy ná ’n duikslag nie wegrol nie, maar Ali Price, Daly en Dan Biggar (twee keer) kom weg met dieselfde oortreding.

Maro Itoje dwing ’n strafskop af nadat Kolisi breek en amper oor die doellyn beur, deur sy hande op die bal te kry, maar hy ondersteun nie sy eie liggaamsgewig nie. Maar wanneer Trevor Nyakane, Smith en Eben Etzebeth balle by die losgemaal probeer steel, blaas Berry nie teen die Leeus nie.

De Allende is op ’n slag vir onkantspel gestraf terwyl hy duidelik nie onkant was nie (“Nic het later erken hy was nie onkant nie”), maar die Leeus word nie gestraf nie wanneer drie van hul spelers blatant onkant is.

Vroeg in die wedstryd straf Berry vir Daly en Stuart Hogg omdat hulle ’n bal uit Handré Pollard se hand ruk terwyl Pollard se been op die grond is. Later word Smith – tereg – vir dieselfde oortreding gestraf. In die doodsnikke doen Itoje dieselfde met Rynhardt Elstadt, maar kom daarmee weg.

Erasmus sê hy kan van die bogenoemde kwessies nog verstaan, maar daar was ’n paar goed waaroor hy opsigtelik stomgeslaan was.

Een daarvan was dat die Bokke op ’n slag net agt sekondes se voordeel gekry het ná ’n strafskop-oortreding van die Leeus, maar die Leeus het kort daarna 23 sekondes lank voordeel gekry.

Nog só ’n kwessie was Curry wat na binnetoe geskrum het en vir Ox Nche opgelig het, wat tot ’n nekbesering vir die Bok-stut gelei het en hom uit die tweede toets gaan hou. Dit was onwettige skrumwerk deur Curry, maar Berry het niks daaromtrent gedoen nie, al het dit reg voor sy oë gebeur. Trouens, hy het die Bokke gestraf vir ’n skrum-oortreding.

Erasmus was ook gefrustreerd met een voorval waarin die skeidsregters “drie verkeerde beslissings” geneem het. Kolbe het gespring vir ’n hoë bal naby die kantlyn en die bal gevang. Price het hom in die lug gespeel, maar is nie gestraf nie. Kolbe het binne die veld geland voordat hy uitgeboender is, maar Berry en Raynal het beslis die skop was direk uit. Kolbe het op die grond bly lê, maar Mako Vunipola het hom kom opruk, wat gevaarlik kan wees vir ’n beseerde speler.

Erasmus lig nog enkele kleiner kwessies uit (’n speler voor ’n skopper en ’n skewe lynstaan-ingooi), en hy was ook ontevrede met sekere goed wat die blasers voor die wedstryd gesê het vir hulle belangrik sou wees, maar in die wedstryd aan die Leeus se kant geïgnoreer het.

Soos dat spelers nie mag ruk en pluk aan teenstanders wat afbreekpunte beskerm nie – wat Tadgh Furlong meer as een keer gedoen het. Of dat spelers nie teenstanders in die lynstane in die lug mag speel nie – wat Jones aan Etzebeth gedoen het.

Meer oor:  Blasers  |  Video  |  Nic Berry  |  Skeidsregters  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Leeus-Toer  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.