Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Rassie kap na Gatland oor Marius Jonker

Nee, hy is nie die man agter die Twitter-profiel “Jaco Johan” nie. En hy steur hom ook nie aan dit wat sir Clive Woodward oor hom te sê het nie.

Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, het uit die vuis gesels oor die twiets wat hy gestuur het oor van die voorvalle Saterdag in die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus.

Jasper Wiese werk die spiere tydens ’n gimnasiumsessie saam met die nasionale rugbyspan, ter voorbereiding vir Saterdag se tweede toets. Die flank is in die beginspan ingesluit. Foto: Gallo Images

Hy word daarvan verdink dat hy onder ’n skuilnaam, ene Jaco Johan, met kort video’s lig probeer werp op die swak beslissings wat in die toets gemaak is.

LEES OOK: Rassie kla op Twitter oor Kolbe-voorval

Die Springbokke het die toets met 17-22 verloor.

“Nee, ek is nie Jaco Johan nie, ek is Johan Erasmus.

“Ek volg hom (op Twitter), hy is ’n groot ondersteuner van ons en hy stuur vir my regtig goeie videogrepe aan.

“Hy is ’n snaakse ou,” het Erasmus in reaksie gesê.

Die twiet oor die Bok-vleuel Cheslin Kolbe, “wat (deur die Leeus se Mako Vunipola) van die grond af opgetel is toe hy ’n ernstige besering kon gehad het”, was ’n belangrike boodskap, sê die voormalige hoofbreier van die Bokke.

“Dit kon baie gevaarlik gewees het. Ons wil nie hê die Springbokke moet Saterdag elke speler van die Leeus wat op die grond lê, rondpluk nie.”

Die wedstrydbeamptes bly ’n warm besprekingspunt en Erasmus sê hy het dit “vreemd gevind” toe Warren Gatland, die Leeus-breier, verlede week Marius Jonker se integriteit bevraagteken het toe hy as TV-skeidsregter aangewys is.

“Warren is ’n goeie ou en ek het hom nog altyd geniet.

“Ben O’Keeffe (wat Saterdag die skeidsregter is) is ’n Nieu-Seelander en Warren ook, maar ons sal nie iets daarvan maak nie. Ons sal dit nooit doen nie.

“Ek dink Marius was in ’n baie moeilike posisie (ná Gatland se uitlatings).”

Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby en waterdraer van die Springbokke, Maandag op die oefenveld. Foto: Gallo Images

Erasmus is gevra of hy nie ook die skeidsregter (Nic Berry) se integriteit bevraagteken het met sy twiets nie.

“Ek dink dit (die twiets) is 100% reg. Dit is nie billik om álles te ontleed nie; die skeidsregter het immers net twee oë.

“Ons het Sondag probeer om ons terugvoering (oor die beslissings) onder Wêreldrugby se aandag te bring, maar dit is Dinsdagoggend eers beantwoord.

“Ons het regtig hard probeer om riglyne en duidelikheid oor sekere kwessies te kry, maar die terugvoering was ongelukkig ’n bietjie traag.”

Aan Woordward, voormalige afrigter van Engeland, se kommentaar dat daar verwarring in die Bok-kamp is oor wie die span afrig, steur Erasmus hom nie.

Woodward sinspeel daarop dat Nienaber ’n seremoniële afrigter is en dat “net een man” in beheer kan wees. En dit lyk asof dit steeds Erasmus is.

“Ek weet nie of ’n sir so belangrik is in Suid-Afrika soos in Engeland nie.

“Dit is sy mening. Ek en Jacques is groot vriende en ek is ’n waterdraer in dié stadium. Hy is hoër op in die rangorde.

“Ek steur my regtig nie aan dit wat Clive Woodward te sê het nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.