Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Steun vir Rassie oor 'omstrede' video

Of dit die regte platform was, is debatteerbaar, maar Rassie Erasmus se video werp lig op ’n onbillike stigma wat die Springbokke al baie jare het, sê die voormalige Bok-kaptein Corné Krige.

Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, het wêreldrugby aan die gons met sy omstrede video. Foto: Gallo Images

“Ons is byvoorbeeld nog altyd gebrandmerk as ’n span wat vuil speel. Ek het Rassie se video enduit gekyk en daar is sonder twyfel meriete in die kwessies waaroor hy kla.

“Daar is ’n ongeskrewe reël dat jy nooit voor ’n toets oor wedstrydbeamptes praat of hulle kritiseer nie, maar dit is duidelik Rassie-hulle is baie gefrustreerd.”

Erasmus se opspraakwekkende video van 62 minute, waarin hy vra dat die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus “’n gelyke kans op die veld het as dit kom by die reëls, respek en die wyse waarop die spelers hanteer word”, is ’n ongekende stap.

Krige sê Warren Gatland, afrigter van die Leeus, het “slim gespeel” toe hy voor die eerste toets sy ontevredenheid uitgespreek het oor Marius Jonker wat as TV-skeidsregter aangewys is.

“Gatland het Jonker daarmee in ’n baie moeilike posisie geplaas. Dit was ’n verloor-verloor-situasie vir hom en ek glo dit het in die Leeus se guns getel.”

Die vraag is nou: Het Erasmus se oordeel hom in die steek gelaat?

“Dit is soos wanneer jy ’n strafskop kry en kantlyn toe skop. As jy ’n drie druk, was dit die regte besluit.

“Druk jy nie, was dit die verkeerde besluit. Dit sal van die uitslag in die tweede toets afhang,” sê Krige.

Wynand Claassen, oud-Springbok-kaptein, loof Erasmus vir sy durf.

“Dit moes al lankal gebeur het. Suid-Afrikaanse rugby suig altyd aan die agterste speen en ons is bly maar die nice ouens wat nie daaroor kla nie.

“Wêreldrugby moet aanspreeklik gehou word vir sy skeidsregters wat so onaantasbaar is.”

Claassen sê as dit nie vir die verkeerde beslissings was nie, kon die Bokke die eerste toets gewen het.

“Daar was ’n boorvat (deur die Leeus-flank Hamish Watson op Willie le Roux) wat net ’n strafskop was.

“’n Ou kan nie anders as om te wonder wat die beslissing sou wees as dit ’n Springbok was wat die duikslag gemaak het nie.

“Spanne soos die Leeus, die All Blacks en Engeland is meesters daarmee om skeidsregters takties te beïnvloed.

“Gatland het Marius Jonker verlede week sommer in die openbaar gekritiseer en hy het gevou onder daardie druk.”

Morné du Plessis, voormalige Bok-kaptein wat Suid-Afrika in 1980 aangevoer het in die reekssege van 3-1 oor die Leeus, maan daar moenie toegelaat word dat sideshows die Bokke se aandag aflei nie.

“Elke afrigter het sy eie styl, maar ek wil nie te veel daaroor uitwei nie.

“Dit is ’n groot toets môre, en kom ons ondersteun eerder die span.”

Die sportsielkundige dr. Henning Gericke glo Erasmus se video sal nie sommer ’n “vertrouensbreuk” in die Springbok-kamp veroorsaak nie.

“Dit is ’n gevestigde groep en Rassie en Jacques (Nienaber) kom al ’n lang pad. Daar is goeie vertroue en samewerking tussen hulle.

“Dit is waarskynlik nie ideaal nie, want dit kan die fokus aflei van dít wat belangrik is – om die tweede toets te wen.

“Rassie se bedoeling is goed en ek is oortuig daarvan dat dit die span gaan saamsnoer en verder aanvuur.”

Wêreldrugby het in reaksie gesê daar word kennis geneem van Erasmus se kommentaar en die “aard daarvan sal deur die gewone amptelike kanale” met die unie (Saru) bespreek word.

“Daar sal geen verdere kommentaar wees nie,” lui dié beheerliggaam se verklaring.

Daar is wyd in Brittanje en Ierland oor Erasmus se video berig en die mening wat deur baie van die oorsese joernaliste gedeel word, is dat dié ongekende optrede as bewys dien dat Gatland Erasmus ontsenu en die sielkundige oorlog gewen het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.