Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Rassie sal klag teen hom teenstaan

Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, sal stappe wat Wêreldrugby teen hom wil doen, teenstaan, het sy prokureur Dinsdag gesê.

“Ons wag nog vir die klagstaat,” sê Frikkie Erasmus, die Stellenbosse prokureur wat Rassie verteenwoordig.

Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, sal klagtes van Wêreldrugby teen hom teenstaan, het sy prokureur Dinsdag gesê. Foto: Gallo Images

Wêreldrugby het Maandag aangekondig dat Erasmus en Saru voor ’n onafhanklike tugkomitee sal verskyn vir ’n video van meer as ’n uur lank waarin wedstrydbeamptes vir die eerste toets tussen die Springbokke en Britse Ierse Leeus – vernaam die skeidsregter, Nic Berry – gekritiseer word. Talle van Berry se foute wat die Springbokke benadeel het, vuilspel deur die Leeus en ’n gebrek aan respek vir Suid-Afrika se kaptein, Siya Kolisi, is in die video deur Erasmus aan die kaak gestel.

Sou Erasmus deur ’n onafhanklike tugkomitee skuldig bevind word, kan hy ’n waarskuwing kry of beboet word. In Saru se geval sal ’n boete waarskynlik ook van toepassing wees.

Dit blyk dat daar nie ’n presedent vir die aard van Erasmus se beweerde oortreding – ’n video waarin wedstrydbeamptes gekritiseer word – is nie.

Wêreldrugby het juis Maandagaand in sy nuusverklaring gesê dat hy sy gedragskode gaan hersien ten opsigte van voorvalle van dié aard, met die oog daarop om die omvang, reëls en sanksies te versterk.

Erasmus se aksies is ook skerp veroordeel.

Marius Jonker se aanstelling as TV-skeidsregter vir die reeks tussen die Springbokke en Britse en Ierse Leeus was ’n omstrede stap deur Wêreldrugby nadat die Nieu-Seelander Brendon Pickerill nie na Suid-Afrika kon reis nie. Foto: Gallo Images

“Wedstrydbeamptes vorm die ruggraat van die sport en sonder hulle is daar nie ’n spel nie. Wêreldrugby veroordeel enige openbare kritiek van hul aanstellings, vertonings of integriteit wat hul rol, die gevestigde en vertroude terugvoering tussen afrigters en beamptes, en veral die waardes van die sport ondermyn,” het die beheerliggaam gesê.

“Wêreldrugby is, nadat al die inligting ingewin is, bekommerd dat individue uit albei kampe kommentaar gelewer het oor die keuse van en/of die vertoning van wedstrydbeamptes.

“Maar veral die uitgebreide en op-die-man-af aard van Rassie Erasmus se kommentaar in ’n video, word as ’n oortreding van Wêreldrugby se regulasie 18 (die gedragskode) beskou en sal nou deur ’n onafhanklike tugkomitee ondersoek word. Die datum en komiteelede sal mettertyd bevestig word.”

Warren Gatland, afrigter van die Britse en Ierse Leeus, het Dinsdag gesug toe hy daaroor uitgevra is.

“Daar is al soveel daaroor gesê. Die enigste ding oor Wêreldrugby se verklaring is dat ons onbedoeld daarby betrek is,” het hy gesê.

“Ons het gepoog om soveel integriteit as moontlik te behou. Ons het nie kommentaar gelewer oor die skeidsregter nie.”

Gatland het wel erken dat hy gepoog het om die Suid-Afrikaner Marius Jonker as TV-skeidsregter te laat vervang vir die tweede en derde toets in die reeks. Jonker is vir al drie toetse as TV-skeidsregter aangestel nadat die Nieu-Seelander Brendon Pickerill weens Covid-19-reisbeperkings nie meer na Suid-Afrika kon kom nie. Die gebruik is om onverbonde TV-skeidsregters op toetsvlak te gebruik.

“Ons het dit die Woensdagaand voor die eerste toets uitgevind,” het Gatland oor Jonker se aanstelling gesê.

“Ons was onder die indruk dat dit Brendon Pickerill sou wees. Ons het eers daarna uitgevind dat Wêreldrugby vir minstens ’n week geweet het dat daar ’n moontlikheid is dat hy nie Suid-Afrika toe gaan reis nie.

“Dís waar ons bekommernis was – dat ons nie in kennis gestel is nie en ook waarom daar nie ’n gebeurlikheidsplan was nie.”

Oor of hy aan Wêreldrugby voorgestel het dat iemand anders vir die tweede en derde toets aangestel word, het Gatland geantwoord: “Ja, ek het.”

“Dit gaan nie net oor die TV-skeidsregter nie. Wat sou gebeur het as van die skeidsregters dit nie hierheen sou kon maak nie?” het hy gesê.

“Kyk, ná die Wêreldbeker-toernooi, is die Britse en Ierse Leeus die grootste ding op die rugbykalender. Jy wil nie in ’n posisie wees waar van die beamptes potensieel gekritiseer of bevraagteken kan word nie.

“Dit is geensins ’n geval van die betrokke mense se integriteit wat bevraagteken word nie. Wat ons bevraagteken het, is die proses.”

Meer oor:  Blasers  |  Video  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Wêreldrugby  |  Rassie Erasmus  |  Leeus-Toer  |  Britse Leeus  |  Klag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.