Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Rassie ‘sal wegstap’ as hy moet ná video

As Nic Berry Sondagmiddag reeds op die Bokke se navrae gereageer het in plaas daarvan om ’n middagslapie te vat, sou dit nie vir Rassie Erasmus nodig gewees het om ’n video te maak oor al Berry en sy mede-wedstrydbeamptes se flaters nie.

Dié video het rugby-opskrifte Donderdag oorheers nadat dit deur ’n gebruiker genaamd JJ op die platform Vimeo gelaai is en daarna op sosiale media versprei het.

Rassie Erasmus soos hy in sy opspraakwekkende video verskyn. Foto: Skermgreep

Erasmus, Suid-Afrika se direkteur van rugby, het die uur lange video Dinsdag om 12:00 gemaak. Hy deel meer as 30 videogrepe van omstrede, verkeerde en onbestendige beslissings in die eerste toets tussen Suid-Afrika en die Britse en Ierse Leeus.

Voordat hy die videogrepe begin ontleed, praat Erasmus 14 minute lank oor waarom hy die video maak. Dit lyk of Erasmus self nie weet vir wie die video bedoel is nie, al spreek hy Joël Jutge, Wêreldrugby se hoof van wedstrydbeamptes, gereeld aan, asook vir Joe Schmidt (Wêreldrugby se direkteur van rugby). Later in die video spreek hy ook vir SuperSport aan, amper asof hy weet die video kan dalk “uitgelek” word.

Hy sê hoewel hulle nooit ’n blaser vir ’n nederlaag sal verkwalik nie, was hulle Sondag gefrustreerd met Berry.

LEES OOK: Rassie-dossier: ‘Beamptes respekteer nie Bokke’

“Ons wou oor sekere goed praat, want ons kies ons span die Sondagaand. Ons wou vir ons spelers terugvoering gee oor sekere kwessies wat nie vir ons sin maak nie,” sê Erasmus.

“Ek het (Berry) gebel, maar hy het gesê hy slaap nog. Dit was vyfuur op ’n Sondagmiddag, so ons het dit verstaan. Toe hy wakker word, het hy gesê ons kan die videogrepe vir hom stuur.”

Hy het op die foon vir Berry gesê die blasersblapse sal nie in die media kom nie, die Bokke wil bloot “hul foute regstel”.

Nadat Erasmus die videogrepe vir hom gestuur het, het Berry gesê hy kan eers met hulle praat nadat hy en Jutge die wedstryd Maandag ontleed het.

“Die frustrasie het begin oorkook, want spelers het vrae gevra en ons kon nie antwoorde gee nie. Ons het eers vanoggend (Dinsdag) terugvoering gekry. Dit maak dit moeilik, want ons kan dan niks aan ons beplanning verander nie; ons het reeds ons span gekies.”

Hy sê hulle sou byvoorbeeld sekere dinge (op grond van Berry se advies) wou inoefen, maar kon dit ook nie doen nie.

Die skeidsregter Nic Berry (middel) en sy assistente, Mathieu Raynal en Ben O’Keeffe, hou die grootskerm dop in die eerste toets tussen Suid-Afrika en die Britse en Ierse Leeus. O’Keefe, ’n Nieu-Seelander, sal Saterdag se tweede toets beheer. Foto: Gallo Images

Erasmus sê die Bokke het gevoel Warren Gatland, die Leeus-afrigter, het baie in die media gepraat oor Faf de Klerk se geel kaart in die SA A-wedstryd, sowel as Marius Jonker se aanstelling as TV-skeidsregter, maar dat die Bokke voor die eerste toets min in die media gesê het. Hulle het besluit om nou, in die opbou tot die tweede toets, hul sê te sê. Daarom was Erasmus so bedrywig op Twitter.

Hy weet egter dat dié video hom in die moeilikheid kan laat beland. Afrigters en rugbybase mag nie wedstrydbeamptes kritiseer nie en kan boetes daarvoor opgelê word.

Erasmus sê hy maak die video in sy eie hoedanigheid, nie dié van SA Rugby of die Springbokke nie.

“Ek het voorheen al die fout gemaak deur goed in die openbaar oor skeidsregters te sê. Dit kom spook gewoonlik later by jou,” sê Erasmus.

“Maar die Leeus kom net een keer elke 12 jaar. Ek glo die stryd moet regverdig wees en as dít beteken dat ek moet wegstap vir die laaste twee toetse (omdat Wêreldrugby hom dalk sal straf), is dit oukei. As julle (Wêreldrugby) vra dat ek nie verder betrokke is nie, is dit geen probleem nie.”

Dit is nog nie duidelik of Wêreldrugby gaan optree nie. Die beheerliggaam het nie op navrae oor die video gereageer nie.

Erasmus sê ook hy sal dit verwelkom as mense video’s maak van alles wat die Springbokke verkeerd gedoen het.

“As ons al hierdie foute aan die een kant maak, maar aan die ander kant gaan die foute ongestraf, is rugby nie ’n regverdige sport nie,” sê Erasmus.

“Daar moet reëls wees en albei spanne moet binne die reëls bly. As hulle dit nie doen nie, moet hulle gestraf word.”

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie wou ook nie kommentaar lewer nie.

Alun Wyn Jones, die Leeus se kaptein, is Donderdagmiddag op ’n aanlyn nuuskonferensie ook oor Erasmus se video uitgevra, maar was baie ontwykend, berig Stephen Nell.

Volgens hom bemoei hy hom met wat tussen die vier lyne op die veld gebeur.

Meer oor:  Blasers  |  Nic Berry  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Leeus-Toer  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.