Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Britse Leeus klop Leeus met 56-14

Die langverwagte afskop van die Britse en Ierse Leeus se toer in Suid-Afrika is uiteindelik hier, met die toerspan Saterdagmiddag in aksie teen hul naamgenoot-span van Gauteng. Die eerste helfte het geëindig met die Britte 21-7 voor.

So lyk die spanne:

Leeus: EW Viljoen, Jamba Ulengo, Manuel Rass, Burger Odendaal, Rabz Maxwane, Jordan Hendrikse, Dillon Smit, Francke Horn (k), Vincent Tshituka, Sbusiso Sangweni, Reinhard Nothnagel, Ruben Schoeman, Ruan Dreyer, PJ Botha en Nathan McBeth. PLAASVERVANGERS: Jaco Visagie, Sti Sithole, Carlu Sadie, Ruhan Straeuli, Emmanuel Tshituka, Morne van den Berg, Fred Zeilinga en Dan Kriel.

Britse & Ierse Leeus: Stuart Hogg (k), Louis Rees-Zammit, Chris Harris, Owen Farrell, Josh Adams, Finn Russell, Ali Price, Taulupe Faletau, Hamish Watson, Courtney Lawes, Jonny Hill, Maro Itoje, Kyle Sinckler, Jamie George en Wyn Jones. PLAASVERVANGERS: Luke Cowan-Dickie, Mako Vunipola, Zander Fagerson, Iain Henderson, Sam Simmonds, Gareth Davies, Bundee Aki en Elliot Daly.

03 Jul. 19:56:00

Wat die Britse Leeus aanbetref: Sjoe, hulle's giftig!

Hulle het alles op spoed gedoen, die verdediging gefop met slim aangeë en goeie skopwerk en die pap veral in die laaste 20 minute voorlangs dik aangemaak. Die dun lug van die Hoëveld het hulle geen snerts geskeel nie, en hulle het hulself in geen afdeling van die wedstryd in die skande gesteek nie. Die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, sou heelwat stof tot nadenke uit hierdie kragmeting gekry het.

03 Jul. 19:53:02

Ivan van Rooyen se span sal beslis ongelukkig wees met hul besoekers se groot wenmarge, maar daar is tog een of twee dinge waaroor hulle kan glimlag. Vir 'n goeie uur het hulle die Britse Leeus aan bande gehou met goeie verdediging, en self 'n paar keer gevaarlik gelyk. Hulle was fisiek, soos Van Rooyen van hulle gevra het, en spelers soos Vincent Tshituka, Jordan Hendrikse en Rabz Maxwane verdien om breëbors te loop oor hul vertonings.

Die werklikheid is egter dat die Johannesburgers meer as 'n jaar en 'n half laas met so 'n vinnige tempo te doen gehad het. Hulle het teen die 65ste minuut geen meer struktuur oorgehad nie, en die Britte toegelaat om al die reëls te maak. Daar was heelwat lesse te leer met die oog op wat later vanjaar in die Pro16-reeks teen die room van Europa op hulle wag.

03 Jul. 19:47:28

Die tuisspan kry die geleentheid om die laaste sê te hê, met 'n lynstaan vir hulle net buite hul eie 22. Maar 'n aanslaan by 'n losgemaal bring sake tot 'n einde.

Die Britte wen met 56-14, danksy agt drieë teenoor twee.

03 Jul. 19:45:01

Die Johannesburgers lyk desperaat om die bal ewe lustig as die Britte rond te gooi, maar hulle is aansienlik morsiger daarmee. 'n Rits fases, waarin hulle net veld wen omdat Fred Zeilinga en Stuart Hogg begin skoptennis speel, eindig in teleurstelling toe Van den Berg die bal aanslaan.

03 Jul. 19:41:52

Niks werk nou vir die Johannesburgers nie, met Carlu Sadie wat 'n strafskop by 'n skrum afstaan. Die besoekers val aan soos 'n span wat bloed geruik het, maar byt die keer bietjie meer af as wat hulle kan kou. Ruhan Straeuli en Ruben Schoeman pla Zander Fagerson op die grond en wen 'n strafskop vir die tuisspan omdat hy aan die bal klou.

03 Jul. 19:39:04

Waar hulle die tuisspan in die laaste 10 minute van hul voete gehardloop het, besluit die Britte die keer om 'n rolmaal van die lynstaan te vorm. Van daar stuur hulle die bal wyd, waar Adams weereens hope oop ruimte voor hom het.

56-14, met sewe minute oor op die horlosie.

03 Jul. 19:37:14

Genugtig, 'n vierde drie vir Josh Adams!

03 Jul. 19:36:30

Die hoop in die Johannesburgers se kamp was dat hulle die wedstryd sterker sou voltooi as hul besoekers, omdat hulle gewoond is aan die eise van die Hoëveld - maar die teenoorgestelde is waar. Die tuisspan het al hul struktuur verloor, op die aanval en veral die verdediging, en die Britte maak nou nes hulle lus het.

03 Jul. 19:35:07

Die wedstryd is 66 minute oud, en daar is nog geen teken dat die hoë lugdruk die Britte lighoofdig en lam maak nie. Josh Adams beklink sy driekuns deur langs die kantlyn af te hardloop, na hyself Jamba Ulengo met 'n yslike duikslag in sy spore stuit, en self van daar af deurhol.

49-14. 'n Mens kan net jou kop skud oor die yslike tempo en slim hardlooplyne waarmee die besoekers speel. Die Springbokke gaan nie 'n maklike tyd hê teen hierdie toeriste nie.

Meer oor:  Leeus  |  Britse En Ierse Leeus  |  Ellispark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.