Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
RG, Damian terug, Duane ‘Speler 24’?

Presies wanneer hulle weer sal kan speel, is onbekend, maar die goeie nuus is dat Damian de Allende en RG Snyman genoegsaam van hul brandwonde herstel het om dié week nog by die Springbokke aan te sluit.

Munster, dié Springbok-duo se werkgewer in Ierland, het die aankondiging Woensdag op sy webtuiste gemaak.

Net soos ná 2019 se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Wallis, sal Damian de Allende (links) en RG Snyman verheug wees dat hulle genoegsaam herstel het om Ierland te verlaat en by die Springbok-oefenkamp in Bloemfontein aan te sluit. Foto: Getty Images

“Albei spelers het positiewe terugvoering van spesialiste gekry. Hulle sal hul herstel onder die Springbokke se mediese span voortsit,” sê Munster op sy webtuiste.

Deon Davids, die Bokke se voorspelerafrigter, het Woensdag op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê dat spelers uit Brittanje en Frankryk Sondag by die Bokke sal aansluit.

Die Bok-afrigtingspan is nog onseker wanneer Duane Vermeulen van sy enkelbesering sal kan terugkeer, maar selfs al herstel hy nie betyds nie, sal hy steeds langs die kantlyn ’n belangrike “speler” wees.

“Ons verwag dat Duane binne die volgende paar weke by ons sal aansluit en sien daarna uit om hom in die groep te hê,” sê Davids.

“Of sy bydrae nou van die veld af of daarop is, ons wil graag sy ervaring in ons beplanning benut.”

Davids kon nog nie sê wie in Vermeulen se afwesigheid die sterkste kandidaat is om volgende Vrydag teen Georgië die nr. 8-trui te dra nie.

Deon Davids, die Springbokke se voorspelerafrigter, maak sy stem dik op die oefenveld. Foto: Gallo Images

“Ons is oopkop in ons benadering. Ons het spelers in ons oefensessies rondgeskuif. Daar’s Kwagga (Smith) en Jasper (Wiese) en Dan (du Preez) se spelpeil vir Sale was baie goed,” sê hy.

“Ons sal opweeg wat tot ons beskikking is in terme van die beskikbare losvoorspelers en wat die behoeftes in ons span is. Hopelik sal ons dan teen Sondag of Maandag ’n baie duidelike prentjie hê van wat ons oor die volgende twee wedstryde (teen Georgië) wil doen.”

Daar’s ook nog nie 100% sekerheid oor die span wat Jacques Nienaber, Bok-afrigter, gaan kies nie.

“Ons werk baie hard en die spelers reageer goed op die sessies. Daar’s baie helderheid met betrekking tot ons stelsels en wat ons wil doen en hoe ons dit gaan doen,” sê Davids.

“Ons het verskillende kombinasies op die proef gestel. Ons het ’n goeie idee van wat ons teen Georgië wil doen, maar sal Sondag of Maandag presies weet hoe ons die wedstryde met die beskikbare spelers wil benader.”

Oor of die Bokke met iets nuuts vorendag gaan kom sedert 2019 se Wêreldbeker-eindstryd, sê Davids die fokus is nou eerder op samehorigheid en klarigheid wat die Bokke wil bereik en wat vir hulle gewerk het.

Selfs al beteken hierdie besering dis neusie verby vir Duane Vermeulen se hoop om teen die Britse en Ierse Leeus te speel, sal die Springbokke hom in die groep hê om die span te help. Foto: Gallo Images

“Ons werk met plaaslike spelers en dis belangrik om hulle vertroud te kry met die stelsels sodat almal duidelikheid het oor die koers wat ons wil inslaan,” sê hy.

“Ons wil die fondasie lê om vir goeie balbesit te sorg om ons aanvallende spel te dien en ons wil ook goed om teenstanders se bal kan meeding om die verdediging te help. Ons fokus is nou dáár. Ons sal ons planne beraam volgens hoe dinge ontvou in terme van die ander spelers wat by ons aansluit en ook die teenstanders.”

Davids het ook die lof besing van die span wat die Britse en Ierse Leeus gekies het vir Saterdag se opwarmingswedstryd teen Japan en bygevoeg dat hy vir Duhan van der Merwe se onthalwe bly is dat hy die beginspan gehaal het.

“Dis goed om te sien dat hy die terugslae van beserings verwerk het en baie goed vir Edinburgh en Skotland kon speel,” sê Davids oor die Leeus se “Suid-Afrikaanse” blits.

“Hy verdien sy plek in die Leeu-groep. Hy’s ’n groot, sterk vleuel en het die X-faktor met sy vermoë om af te rond. Hy sal ’n handvol wees.”

• Intussen het Justin Tipuric vir Hamish Watson in die Leeu-span vervang vir die wedstryd teen Japan. Watson het in ’n oefensessie harsingskudding opgedoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.