Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Selfondersoek wag op Springbokke

Wat was die oorsaak van die Springbok-ineenstorting in die tweede helfte?

Siya Kolisi, Springbokkaptein, spring oor twee Britse en Ierse Leeus in Saterdag se eerste toets in Kaapstad, met sy spanmaats Faf de Klerk en Lood de Jager by om te ondersteun. Foto: Gallo Images

Was dit bloot ’n sameloop van ’n span wat lanklaas saam gespeel het en die Covid-19-dilemma van die laaste ruk?

Jacques Nienaber, die Bok-afrigter, het Saterdagaand nadat die Britse en Ierse Leeus die eerste toets teen sy span in die Kaapstad-stadion met 22-17 gewen het, gesê hulle sal in die nadraai van die teleurstelling agter die kap van die byl moet kom.

Die Springbokke was in beheer voor rustyd en kon met ’n bietjie meer geluk selfs ’n groter voorsprong as 12-3 gehad het.

Die Leeus het gewankel onder die tuisspan se lugskoppe en dié druk het op die telbord gewys.

Dit was asof die spanne truie geruil het teen rustyd en toe die Leeus – met ’n briljante Maro Itoje aan die voorpunt – begin brul, was dit gedane sake vir Suid-Afrika.

Die tweede helfte het net die skrumskakel Faf de Klerk se drie opgelewer, terwyl die besoekers 19 punte ingesamel het.

“Ons is in die eerste helfte beloon vir die druk wat ons op hulle uitgeoefen het, maar hulle het ons in tweede helfte in die lug geklop.

“Toe hulle eers dié wedstryd begin oorheers, het dit hulle gebiedsvoordeel en kanse uit gebroke spel gegee,” sê Nienaber.

Teen rustyd was die boodskap eenvoudig: Hou by die benadering, want dit werk.

“Ons het hulle gedwing om foute te begaan, maar ons het ook gesels oor die Leeus wat ons ontwrig by die afbreekpunte en ons dissipline.

“Dit was ongelukkig toe juis dit wat ons gekos het in die tweede helfte. Veral ons dissipline was nie goed nie.”

In kontras met die Springbokke se oorheersing teen Engeland in 2019 se Wêreldbeker-eindstryd, toe die voorrymanne Steven Kitshoff en Malcolm Marx ontplooi is, het hulle toetrede die keer nie veel van ’n impak gemaak nie.

Nienaber sê dit sal naïef van hom wees om te glo die Covid-19-ontwrigting in die Bok-kamp het geen rol gespeel nie.

“Ons het ook nie baie rugby saam gespeel voor die toets nie, maar ons kan dit nie as ’n verskoning gebruik nie.

Die Bokke kon twee keer gaan druk het, was dit nie vir beslissings wat na die TV-skeidsregter, Marius Jonker, verwys is nie.

“Ons het drie kanse gehad (om te gaan druk), maar twee daarvan is gekanselleer.

“Soms swaai daardie besluite in jou guns en ander kere nie. Dit was naby, maar die regte besluite is geneem.”

Met die Leeus wat nou ’n voorsprong van 1-0 in die reeks het, wag daar ’n belangrike week op die wêreldkampioen.

Carel du Plessis, die Springbok-afrigter toe die Leeus die 1997-reeks met 2-1 beklink het, het juis gewaarsku die span wat in die eerste toets seëvier, sal met groter vryheid en selfvertroue begin speel.

Kan die Bokke die saak regstel, is Nienaber Saterdagaand gevra

“Beslis ja. Wel, ons móét net.

“Dit is nie ’n geval dat ons nie goed voorbereid was nie, want ons het geweet wat kom (die Leeus se hangskoppe), maar ons uitvoering sal baie moet verbeter.”

Meer oor:  Warren Gatland  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.