Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Siya erken hy speel nie goed genoeg

Siya Kolisi sê hy “sou gek wees” om nou, gegrond op sy onlangse spelpeil, te glo hy kan eenvoudig in die Springbok-span instap vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus.

Die Springbok-kaptein het die afgelope week erken sy peil was nie te watwonders sedert die Wêreldbeker-toernooi in 2019 nie.

Siya Kolisi

“Elke wedstryd wat ek nou speel, tel. Om eerlik te wees, is ek nog nie waar ek moet wees nie,” het Kolisi dié week gesê.

“As my vertonings nie goed is nie, weet ek vir ’n feit dat ek nie gekies sal word nie.

“Tans fokus ek daarop om goed vir die Haaie te speel en so hard te werk as wat ek kan om deel van die Springbokke te wees. Dit sal ’n reuse-voorreg wees om deel te wees van die span wat teen die Britse en Ierse Leeus speel.

“Al my energie gaan daarin om weer die groep te haal. Ek geniet weer wat ek doen en dit is die belangrikste.”

Kolisi het hom begin vanjaar van die Stormers af by die Haaie aangesluit.

“Voor die laaste twee wedstryde waarin ek nou gespeel het, was die laaste werklik goeie wedstryd wat ek gespeel het, die Wêreldbeker-eindstryd. Daarna het ek nie regtig so goed vertoon as wat ek kan nie.

“Vir my om dus aan die Leeus te dink, sou gek wees, al wil ek regtig graag daar wees. Daarom is ek selfsugtig genoeg om te sê ek gaan nou op myself fokus en ek weet ek kan beter vir my span vertoon.”

Kolisi het die afgelope week ook die omslag en titel van sy outobiografie, Rise, op sosiale media gedeel.

“Ek sou nie ’n boek geskryf het totdat ek klaar rugby gespeel het nie, maar iemand het toe besluit om sonder my goedkeuring ’n hele boek oor my te skryf,” sê Kolisi.

In 2019 het die skrywer Jeremy Daniel die biografie Siya Kolisi: Against All Odds geskryf.

Al is dit heeltemal wettig en standaardpraktyk wêreldwyd om ongemagtigde biografieë oor bekendes te skryf, het Kolisi en sy vrou, Rachel, hulle sedert die publikasie daarvan hewig en herhaaldelik teen die boek uitgespreek.

“Ek het gedink ek wil my eie storie op my eie manier vertel en die waarheid oor sekere dinge deel, want van die goed wat hy geskryf het, is onsin. Ek het probeer om hom te keer, maar kon nie daarin slaag nie.”

Meer oor:  Siya Kolisi  |  Springbok  |  Kaptein  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.