Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Só het Gatland met Bokke se kop gesmokkel
Luke Cowan-Dickie kry gelukwense vir die drie wat die Britse en Ierse Leeus terug in die wedstryd gekry het in die eerste toets teen die Springbokke in die Kaapstad-stadion. Foto: Getty Images

Op die ou einde was dit toe die Britse en Ierse Leeus wat die sielkundige oorlog gewen het voor Saterdag se eerste toets teen die Springbokke in die Kaapstad-stadion.

Warren Gatland, die Leeus se afrigter, het ná sy span se oorwinning van 22-17 onthul dat sy kommentaar in die aanloop tot die wedstryd – dat hy glo hulle die Bokke se ego’s ’n knou gegee het in die wedstryd teen die Suid-Afrika A-span – eintlik ’n poging tot manipulasie was.

“Ek het die kommentaar gelewer met die hoop dat dit die Bokke sal laat besluit om harder vir ons in dieselfde areas te kom. Ek wou nie hê dat hulle hul spel moet begin afwissel nie,” sê Gatland.

“Dit het nie soveel oor die knou aan hulle ego’s gegaan as die feit dat ons selfvertroue uit sekere aspekte van die spel put nie.

Warren Gatland sê hy het die Springbokke probeer manipuleer om ’n sekere wedstrydplan te volg deur vooraf te sê dat hulle ego’s geknou was ná die Britse en Ierse Leeus se wedstryd teen ’n Suid-Afrika A-span. Foto: Getty Images

“Ek het gedink ons lynstaanspel was puik en ons skrumwerk was baie sterk in die tweede helfte nadat ons aanvanklik daar gesukkel het.”

Die Leeus was vooraf oop daaroor dat hulle nie gedink het daar’s veel meer pyle in die Bokke se koker as fisieke kragspel nie, veral deur die vaste fasette en drywe van lynstane af. Alles het vir die Leeus daaroor gegaan om die fisieke stryd te wen en hulle het geglo dis binne hul bereik.

Die Leeus was rustyd met 3-12 agter, maar was geensins paniekerig terwyl hulle lemoene geëet het nie. Uiteindelik het hulle die Bokke met hoë skoppe in hul helfte neergepen en daar onder druk geplaas, en ook rolmaalbewegings met vrug aangewend.

Suid-Afrika het die eerste helfte oorheers, maar nie tot só ’n mate ’n fisieke oorhand gehad dat dit die Leeus se energie getap het nie. Die Leeus het die Bokke in die tweede helfte ook onder druk geplaas wanneer hulle die bal deur fases gedra het.

“Met rustyd was die boodskap dat ons steeds in die geveg was. As Dan (Biggar) met ’n betreklik maklike strafskop geslaag het sou dit 6-12 gewees het. Ons het onnodig strafskoppe afgestaan en moes net geduldiger wees. Die geleenthede sou dan kom,” sê Gatland.

“Ons het soms die opsie geneem om die bal hoog te skop en in die tweede helfte het ons dit ’n paar keer terug gewen of het hulle aangeslaan. Daardie was vir ons groot oomblikke.”

Gatland het ook die punt gemaak dat die Leeus se plaasvervangers ’n groter impak as die Bokke s’n gehad het. Die Bokke het duidelik vir Duane Vermeulen op agtsteman in die beginspan gemis en veral ook die impak wat hulle deur die sogenaamde “Bomb Squad” in die 2019 Wêreldbeker-toernooi van spelers soos Francois Louw en RG Snyman gekry het.

Dan sal die Bokke seker ook erken dat hulle nie deur hul voorryspelers op die plaasvervangersbank woema gekry het nie. Hoe moeilik dit ook al is om te sluk, moet daar toegegee word dat die Leeus se voorspelers die Bokke op hul sterkpunte verslaan het.

Gatland meen ook dit was ’n baie goeie besluit om vroeg in die tweede helfte die berekende risiko te neem om die bal van ’n strafskop in die Bokke se kwartgebied uit te skop eerder as om die drie punte te neem. Die Leeus was ná Luke Cowan-Dickie se verdoelde drie met net twee punte agter.

“Ons wou die Bokke in hul kwartgebied neerpen en daardeur punte probeer aanteken. Ons rolmale was veral in die tweede helfte baie goed. Ons het ’n paar strafskoppe daardeur gekry en die drie gedruk,” sê Gatland.

“Dit gaan net daaroor om daardie balans reg te kry. Dis ’n besluit wat die kaptein en spelers neem.”

Ondanks die Leeus se oorheersing in die tweede helfte, sê Gatland dit was steeds ’n geval van die bal wat enige kant toe kon gespring het. Hy verwag ’n selfs taaier tweede toets.

“Dit sal hulle seergemaak het, want hulle is ’n ongelooflike trotse rugbynasie en die wêreldkampioen. Volgende naweek gaan selfs groter en harder wees.”

Meer oor:  Warren Gatland  |  Britse En Ierse Leeus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.