Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Sous: Leeus sal pap voorlangs dik aanmaak

Die emosie van Engeland se nederlaag in 2019 se Wêreldbeker-eindstryd sal die Britse en Ierse Leeus aanvuur in die komende toetsreeks teen Suid-Afrika, meen die Springbok-slot Franco Mostert.

Agt uit die 11 Engelsmanne in die Leeus se groep van 37 – Elliot Daly (heelagter), Owen Farrell (losskakel), Anthony Watson (vleuel), Tom Curry (flank), Jamie George (haker), Maro Itoje, Courtney Lawes (albei slotte) en Mako Vunipola (loskopstut) – was in Engeland se beginspan vir die eindstryd in Jokohama in 2019. Luke Cowan-Dickie, wat die haker op die plaasvervangersbank was in die Engelse se nederlaag van 12-32 teen die Bokke, is ook in die groep.

Die Bok-hemelbesem Franco Mostert slyp op die oefenveld by die Springbokke se oefenkamp in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Die twee Rose in die Leeus-groep wat nie in die WB-eindstryd gespeel het nie is die losvoorspelers Jonny Hill en Sam Simmonds.

“Uit my ervaring by Gloucester en met die Wêreldbeker-eindstryd in gedagte, dink ek hulle gaan ons fisiek wil karnuffel en só uit ons struktuur dwing,” het Mostert, wat as Sous onder sy spanmaats bekend staan, op ’n aanlyn nuuskonferensie vanuit die Bokke se oefenkamp in Bloemfontein gesê.

“Ek dink hulle gaan ons voor wil takel, maar hopelik kan ons net ons werk só goed as moontlik doen en ons plan goed uitvoer. Maar ja, ek dink hulle sal ons voorlangs wil boelie.”

Sou Mostert in die Bokke se beginspan wees, sal sy moontlike tweestryd met die Walliese en Leeus se kaptein, Alun Wyn Jones, vooraf straks ’n druk besprekingspunt wees. Die Leeus spog ook met ander goeie slotte in Itoje, Lawes en Jonny Hill.

“Ek dink die Leeus het die beste slotte in Brittanje gekies. So ek dink dit gaan ’n ongelooflike toer en paar wedstryde wees,” sê Mostert.

Ek dink hulle sal ons voorlangs wil boelie.

Dié ranker was self op die plaasvervangersbank in die WB-eindstryd, maar dit sal nie verbaas indien hy hom in die Bokke se beginspan bevind nie.

Lood de Jager, wat die Bokke se nr. 5-slot in die eindstryd was en vir die Sale Sharks in Engeland speel, keer nou terug van ’n langtermynbesering. Dis nog onduidelik of hy fiks sal wees vir volgende Vrydag se toets teen Georgië op Loftus Versfeld.

Suid-Afrikaners hoef egter nie bang te wees dat Mostert, wat vir die Honda Heat speel, en ander Bokke wat in Japan gesetel is, nie fisiek gereed sal wees vir die taai uitdagings wat voorlê nie, sê Mostert.

“Die Japannese Topliga raak elke jaar sterker met spelers van Nieu-Seeland en Tonga wat daar kom speel. Japan se rugby het ook baie verbeter,” sê hy.

“Ek sien baie uit na die toer wat voorlê en hopelik sal ek gekies word. Jy oefen maar elke dag só hard as moontlik en doen jou bes en hopelik haal jy dan die 23-tal.”

Rugby in die Japannese liga is dalk meer fisiek as wat baie mense dink. Hier word Malcolm Marx vasgevat in die Kubota Spears se onlangse wedstryd teen Suntory Sungoliath. Foto: Getty Images

Nóg ’n Bok wat op die plaasvervangersbank was in die eindstryd, die haker Malcolm Marx, meen die reeks teen Georgië kan ’n blik bied op die “Japanse” Bokke se gereedheid wat die fisieke uitdagings betref. Hy het die afgelope seisoen vir die Kubota Spears gespeel.

“Die tempo van die spel in Japan is geweldig vinnig. Daarmee sê ek nie dat dit nie ook fisiek is nie. Dis net ’n ander soort uitdaging. Ons sal maar net moet sien wat gebeur indien ons vir die toetse teen Georgië gekies word,” sê Marx.

Hy is nie vir ’n oomblik bekommerd dat die Bokke vanweë die lang onderbreking hul momentum gaan prysgee of aan skerpheid sal ontbreek nie.

“Dis nie vir enigiemand ’n verskoning dat ons lanklaas gespeel het nie. Elke land is deur die pandemie geraak. Ons kon ongelukkig nie speel nie en dis iets wat ons sal moet hanteer, maar ek is nie bekommerd nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.