Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Masotti help Rassie, Saru graag
Marco V. Masotti, die Amerikaanse belegger in die Haaie, sê sy twiet oor regshulp van ’n span New Yorkse prokureurs vir Rassie Erasmus en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie was tong-in-die-kies bedoel.

Marco V. Masotti, die Amerikaanse belegger by die Haaie, het Woensdag ’n ligte beroering veroorsaak met ’n twiet dat hy ’n “span New York-prokureurs” gereed het om vir Rassie Erasmus en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) te help in die tugverhoor wat Wêreldrugby op hulle wil afdwing.

Erasmus, Saru se direkteur van rugby, is in die moeilikheid vir ’n video wat hy gemaak het waarin die wedstrydbeamptes se vertoning in die eerste toets tussen die Springbokke en Britse en Ierse Leeus gekritiseer word. Die Australiese skeidsregter Nic Berry het veral deurgeloop.

Wêreldrugby het sedertdien aangekondig dat Erasmus en Saru voor ’n “onafhanklike” tugkomitee sal moet verskyn. ’n Datum vir die verhoor is nog nie vasgestel nie en Erasmus se regsverteenwoordiger wag nog vir ’n klagstaat.

“Ek het ’n span New York-prokureurs gereed om vir Rassie en SA Rugby by te staan. Kom ons verhoor Wêreldrugby,” het Masotti, ’n vennoot by die New Yorkse regsfirma Paul, Weiss, Rifkind, Wharton & Garrison LLP, Woensdag getwiet.

Rassie het kwessies uitgelig wat Wêreldrugby sal moet hanteer as ons die spel by die volgende vlak wil uitbring.

Toe Netwerk24 hom om kommentaar nader, het Masotti, wat in hoë kringe in Amerika se Demokratiese Party beweeg, gesê dat sy twiet “speels” bedoel was.

“Maar ek sal hulle met graagte op enige manier help,” het hy bygevoeg.

Koes, Wêreldrugby, Marco V. Masotti (regs) ken mense in hoë plekke. En sy prokureurs gaan julle dalk takel . . .

“Ek’s nie seker of dit die regte manier was om dit te doen nie, maar Rassie het kwessies uitgelig wat Wêreldrugby sal moet hanteer as ons die spel by die volgende vlak wil uitbring.”

Masotti se firma beskik oor meer as 1 000 prokureurs. Hul dienste sluit litigasie in sport in.

Erasmus word verteenwoordig deur Frikkie Erasmus, ’n prokureur wat dekades se ervaring in die rugbyopset het en ’n vertroueling van die direkteur van rugby is.

Frikkie Erasmus het vroeër vandeesweek aan Netwerk24 gesê dat sy kliënt Wêreldrugby se aksie sal teenstaan.

Terwyl Wêreldrugby aanvoer dat Erasmus sy gedragskode oortree het, het die kwessie van wedstrydbeamptes ook die beheerliggaam se amateuragtige bestuur op die voorgrond geplaas.

Een van die groot kwessies in die reeks was die gebrek aan ’n gebeurlikheidsplan toe die Nieu-Seelander Brendon Pickerill, wat die TV-skeidsregter vir al drie toetse sou gewees het, weens Covid-19-reisbeperkings nie Suid-Afrika toe kon kom nie.

Gevolglik is ’n Suid-Afrikaner, Marius Jonker, vir al drie toetse aangestel, terwyl dit ’n lang gevestigde praktyk is dat TV-skeidsregters op toetsvlak onverbonde moet wees.

Warren Gatland, die Leeus se afrigter, het Dinsdag gesê dat hulle eers die Woensdagaand voor die eerste toets daarvan te hore gekom het dat Jonker die TV-skeidsregter sou wees. Hy het gepoog om Wêreldrugby te kry om ’n ander plan vir die tweede en derde toetse te beraam, maar die beheerliggaam was nie ontvanklik daarvoor nie.

• Die Fransman Mathieu Raynal is die skeidsregter vir Saterdag se derde toets in die Kaapstad-stadion.

Meer oor:  Blasers  |  Video  |  Tugverhoor  |  Skeidsregters  |  Wêreldrugby  |  Rassie Erasmus  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.