Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Stick: ‘Hou egopraatjies vir stryd op veld’
Makazole Mapimpi Vrydag by die Springbokke se kapteinsoefening in die Kaapstad-stadion. Hy sal Saterdag die eerste keer sedert die Wêreldbeker-eindstryd in 2019 vir die Bokke in aksie wees. Foto: Getty Images

Hou liefs al die praatjies vir die stryd tussen die vier lyne.

Dít is die boodskap uit die Springbok-kamp aan Warren Gatland, afrigter van die Britse en Ierse Leeus, op die vooraand van die eerste toets tussen die spanne in Kaapstad.

Gatland was nog altyd lekker bekkig en hy het die laaste paar dae heelwat te sê gehad.

Hy was glo kwaai omgekrap om op die nippertjie te verneem die Suid-Afrikaanse skeidsregter Marius Jonker is as die TV-skeidsregter vir die toets aangewys.

Die Kiwi Brendon Pickerill sou die mandaat gehad het, maar hy kon weens Covid-19-reisbeperkings nie na Suid-Afrika vlieg nie.

Ook glo Gatland die Springbokke se ego het ’n knou gekry toe die Leeus in die vaste fasette oorheers het in verlede week se ontmoeting met die Suid-Afrikaanse A-span.

Mzwandile Stick, hulpafrigter van die Bokke, sê in reaksie hierop die Springbokke wys nie wedstrydbeamptes aan nie.

“Dit is Wêreldrugby se taak, dit is nie in ons hande nie, maar ek weet al daai ouens (skeidsregters) is baie professioneel. As hulle (die Leeus) ’n probleem daarmee het, kan hul dit met Wêreldrugby opneem.”

As hulle (die Leeus) ’n probleem daarmee het, kan hul dit met Wêreldrugby opneem
Mzwandile Stick

Stick sê hulle was tevrede met die SA A-span, wat ’n Bok-skimspan was, se vertoning teen die toerspan.

“As jy kyk na die belangrikste stukkie statistiek, die eindtelling, was ons tevrede. Ons het die wedstryd gewen en ek is nie seker hoe ons ego skade gely het nie?” sê hy verbaas.

“Ek gaan nie in die strik daarvan trap om by ’n woordestryd betrokke te raak nie. As Gatland praat oor ego’s, weet hy nie veel van Suid-Afrikaners nie. Hou eerder die egopraatjies vir die stryd tussen die vier lyne.”

Die Springbok-hulpafrigter Mzwandile Stick. Foto: Gallo Images

En gaan Rassie Erasmus weer Saterdag vir die Bokke water aandra?

“Ja, hy gaan. Dit is nou sy rol en ons is gelukkig daarmee,” het Stick onomwonde gesê.

Die Springbok-vleuel Makazole Mapimpi is vir die eerste keer in die beginspan sedert 2019 se Wêreldbeker-eindstryd, maar Stick sê daar is nie kommer oor sy fiksheid of kondisionering nie.

“Die lekker ding van Makazole is hy word nie onfiks nie, want hy kom van ’n landelike gebied af waar jy jou hele lewe lank loop,” skerts hy.

“Op ’n ernstige noot, Makazole is baie beroepsgerig en sien goed na homself om. Hy weet wat ons plan is en dat hy vir 80 minute die pas moet volhou.”

Stick sê “jy kon die energie voel” toe spelers soos Siya Kolisi, Frans Malherbe en Handré Pollard vandeesweek ná hul Covid-19-isolasie by die groep aangesluit het.

“Ons het vrede daarmee gemaak dat dit uitdagende tye is. Ons weet baie goed dat die span wat die beste daarby gaan aanpas ’n beter kans sal hê om die toetsreeks te wen,” sê hy.

“Dit is ervare spelers wat weet wanneer om aan te skakel.”

Kolisi sê hy steur hom nie aan alles wat in die opbou kwytgeraak word nie.

“Nee, nee. My enigste taak is om goed te speel en dit te doen wat die span van my verwag. Al die ander goed is buite my beheer.”

Meer oor:  Warren Gatland  |  Mzwandile Stick  |  Marius Jonker  |  Kaapstad  |  Eerste Toets  |  Rugby  |  Skeidsregter  |  Springbokke  |  Leeustoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.