Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Strydros Alun Wyn maak dit 10 op ’n ry

Alun Wyn Jones sal Saterdag, wanneer hy in die Kaapstad-stadion teen die Springbokke op die veld draf, die merkwaardige prestasie van ’n tiende toets agtereenvolgens vir die Britse en Ierse Leeus behaal.

Alun Wyn Jones speel Saterdag sy tiende toets op ’n ry vir die Britse en Ierse Leeus. Foto: Getty Images

Die 35-jarige Wallieser is op sy vierde Leeus-toer. Sy buiging was in Suid-Afrika in 2009 en hy het hulle daarna ook in Australië in 2013 en Nieu-Seeland in 2017 verteenwoordig. Hy was in al daardie toetse in die beginspan.

“Om voor die eerste toets hier te sit, is alles waarvoor ek die laaste vier jaar gewerk het,” het Jones Woensdag met die bekendmaking van die Leeus se 23-tal gesê.

“Wanneer jy een toer afsluit, weet jy nie of daar ’n volgende een gaan wees nie. Om nou hier te sit, voel baie spesiaal, maar dit is net ’n klein tree in wat hopelik ’n baie genotvolle week sal wees.”

Jones, wat al 157 toetse op sy kerfstok het – ’n wêreldrekord – voer die Leeus aan ná ’n merkwaardige herstel van ’n skouerbesering wat hy in hul opwarmwedstryd teen Japan in Edinburg kort voor hul vertrek na Suid-Afrika opgedoen het. Aanvanklik is gevrees dat hy die hele toer sal misloop.

Hy het egter vinnig herstel en saam met Wallis se nasionale span begin oefen voordat hy verlede week Donderdag weer by die span aangesluit het. Hy is met die intrapslag as ’n plaasvervanger in die wedstryd die afgelope Saterdag teen die Stormers ingespan.

“Ek was daardie Sondag ná die besering reeds op my rusbank tuis nog voordat die ouens by die lughawe aangekom het om na Suid-Afrika te vertrek. Dít was moeilik om te verwerk,” sê hy.

“Toe hoor ek die Dinsdag daar’s ’n kans dat ek nog betyds kon herstel. Dit het surrealisties gevoel. Soms is ’n kans al wat jy nodig het. Ek was gewillig om hard te werk en dit moeilik te maak vir die afrigter om my uit die span te laat.”

Jones sê hy sal sy spanpraatjie voor die toets eenvoudig hou.

“Die groot ding is kalmte. Ons gaan in ’n armdrukkery en stryd om veldgebied gewikkel wees. Dit hoef nie oorgekompliseerd te wees nie. Daar gaan in elk geval baie emosie wees,” sê hy.

Een ding wat duidelik uit die Leeus se beginspan blyk, is dat hulle die Bokke in die lynstane wil takel. Behalwe vir Jones en sy slotmaat, Maro Itoje, bevind die Engelse slot Courtney Lawes hom op die flank. Jack Conan, die agtsteman, is ook ’n lynstaanopsie.

“Die effek van die vaste fasette is yslik. Dis ’n pilaar van die Bokke se spel. Dis ’n groot fokuspunt, veral in ag genome teen wie ons speel,” sê Jones.

Hy meen die eerste toets kan deurslaggewend in die reeks wees.

“Die een woord wat altyd opkom, is momentum. Dit gaan presies dieselfde vir hierdie reeks wees,” sê Jones.

“Jy wil só vinnig as moontlik uit die wegspringblokke wees en ons kry dié naweek die geleentheid.”

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Britse Leeus  |  Alun Wyn Jones
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.