Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Telbord vertel nie volle verhaal, sê Ivan

Die Johannesburgse Leeus is beslis Saterdag deur ’n beter span verslaan – maar die gaping tussen hulle en die Britse en Ierse Leeus is kleiner as wat die telbord aandui.

So het die Gautengers se breier, Ivan van Rooyen, gereageer nadat sy span op Ellispark met 56-14 deur die toeriste oorrompel is.

Die vleuel Rabz Maxwane gooi sy volle gewig in agter ’n duikslag op die Britse Leeus se Sam Simmonds. Die Johannesburgers het in ’n stadium uitstekend verdedig, maar kon dit nie volhou nie. Foto: Getty Images

Van Rooyen se Leeus het vir die eerste keer in 20 maande met internasionale teenstand te doen gekry, en is behoorlik getoets deur die yslike tempo waarmee Stuart Hogg se span hulle op die aanval en by die rolmale gepeper het. Die tuisspan het darem self twee goeie drieë gedruk en in ’n stadium vir ’n goeie tien minute op die Britte se doellyn kamp opgeslaan. Daarna het hul verdedigende struktuur egter in vlamme opgegaan en kon die besoekers vier drieë binne net 18 minute inryg.

“Dit het gelyk en gevoel of hul spoed ons onkant gevang het,” het Van Rooyen Saterdag gesê. “Dit was ’n groot les. Dis nie dat hulle vinniger as ons hardloop nie, maar eerder dat hulle gouer by die losgemale is en ons uitvang op die volgende fase.

“Uit die gesprekke met die spelers is dit duidelik dat die kontak nie anders was as wat ons verwag het nie, maar die spoed van hul uitvoering en hul vlak van besluitneming was beslis hoër as waaraan ons gewoond is. In die groter prentjie sou ons dalk beter voorbereid gewees het as ons (onlangs) teen oorsese spanne gespeel het.”

Die wedstryd het inderdaad die enorme kloof tussen die vlak van plaaslike rugby en die gehalte van die Europese spel beklemtoon. Suid-Afrikaanse kykers het die laaste jaar gewoond geraak daaraan om skrumskakels agter losgemale te sien draal en die een voorspeler na die ander in verdedigers te sien vasdons. Dit is net mooi die teenoorgestelde van wat die Britte Saterdag opgedis het.

Teen daardie agtergrond kan die Gautengers hul koppe hoog hou. Die telling laat mens dalk dink hulle het skande gemaak, maar voor die blitzkrieg van vier drieë in die tweede helfte was hulle heeltemal skaflik.

“Ons is geklop deur ’n beter span, maar ek dink nie die verskil tussen ons was so groot soos die telbord wys nie,” sê Van Rooyen.

Die breier het veral lof gehad vir sy lostrio. Die 22-jarige Vincent Tshituka was die Johannesburgers se beste en ywerigste speler, terwyl Francke Horn (22) en Sibusiso Sangweni (20) elk ’n mooi breekslag gehad het en gewoel het op die grond.

“Ons het baie jong spelers wat groot potensiaal wys,” het Van Rooyen gesê. “ ’n Wedstryd soos vanaand s’n kan ’n loopbaan lanseer. Hopelik kan hulle eendag, wanneer hulle toetsrugby speel, terugkyk en besef hulle was in hierdie wedstryd naby (aan uitstekend), maar nog nie heeltemal daar nie.

“Ek was ontsettend trots op die werk van die lostrio, op die spelers se werkywer weg van die bal en op hoe hulle vir mekaar omgegee het. Selfs in hierdie nederlaag was daar baie positiewes.”

Van Rooyen het gesê hy sien nou uit daarna om te kyk hoe die land se ander plaaslike spanne, en natuurlik die Springbokke, in die komende weke teen die Britte vaar.

“Uit hierdie wedstryd het Jake [White], Sean [Everitt] en Dobbo [John Dobson] nou 80 minute meer om die Leeus op te ontleed. Natuurlik sal ek ’n SA span ondersteun om hule te klop. Ons bloed by die Leeus is rooi, maar ook groen. Ek dink dit gaan ’n ongelooflike toetsreeks (tussen die Bokke en Britte) wees.”

Meer oor:  Leeus  |  Britse En Ierse Leeus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.