Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Trevor beskeie oor skrum-oorheersing

Hy weet baie mense dink “ ’n stut is maar ’n stut”, tog was dit ’n uitdagende vooruitsig om Saterdag in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus weer op loskopstut te sak, gee Trevor Nyakane toe.

“Dit was ’n aanpassing. Ek dink ek het laas in 2016 loskopstut gespeel, so dit was nogal ’n uitdaging vir my en ek is bly dit het so goed uitgedraai,” sê Nyakane.

Dié stut van die Bulle het destyds sy loopbaan as ’n loskop begin, maar het later by Loftus Versfeld as ’n staatmaker in die nr. 3-trui ontluik.

Nadat Ox Nche ’n nekbesering in die eerste toets teen die Leeus opgedoen het, het Nyakane die taak gekry om Steven Kitshoff in die tweede helfte aan die loskopkant af te los.

Trevor Nyakane sê hy sal slot ook speel as daar ’n krisis in die Springbok-kamp opduik. Foto: Gallo Images

Met Nyakane, Malcolm Marx en Vincent Koch wat as impakspelers in die voorry opgestuur is, het die Leeus in die tweede helfte swaar in die skrums geleef.

Nyakane sê almal in die agttal het ’n rol gespeel.

“Wanneer jy die Springboktrui aantrek, ongeag wat die nommer op jou rug is, het jy ’n taak op hande. Ek is gevra om loskop toe te skuif, maar dit gaan nie oor Trevor nie. Dit gaan oor die Groen-en-goud,” sê hy.

“Ek het baie hulp van Ox en Kitsie (Kitshoff) gekry en hulle het my ’n paar wenke gegee ter voorbereiding. Dit help natuurlik ook dat ons so ’n passievolle skrumafrigter soos coach Daan (Human) het. Maar die belangrikste is dat ek geweet het ek kan op die vyf manne agter ons staatmaak. Dit is ’n goeie eenheid.”

Nyakane sê hoewel sy voorbereiding goed was, weet ’n stut nooit heeltemal wat op hom wag in die skrums nie.

Jy kon sien dat die ouens in albei spanne se voorrye van wêreldgehalte is.
Frans Malherbe

“In die stadium is ek weer ’n loskopstut. Ek sal slot speel ook as dit moet, ek gaan net nie veel van ’n lynstaanopsie wees nie,” sê hy met sy kenmerkende Colgate-glimlag.

Die ervare vaskopstut Frans Malherbe sê dit het almal in die span groot vreugde gegee om te sien watter impak Nyakane-hulle maak onderweg na ’n oortuigende sege van 27-9.

“Jy kon sien dat die ouens in albei spanne se voorrye van wêreldgehalte is. Mako Vunipola en (Luke) Cowan-Dickie skuif bank toe (vir Saterdag se derde toets), maar daar is nie eintlik baie wat verander nie.”

Die Leeus het twee Walliesers – Wyn Jones en Ken Owens – in die voorry gekies in Vunipola en Cowan-Dickie se plekke.

Jones was ook Malherbe se direkte teenstander toe die Springbokke teen Wallis gespeel het in 2019 se Wêreldbeker-halfeindstryd in Japan.

Malherbe sê die Bokke het baie gegroei in die skrums en daar is ’n hegte band onder die spelers in die voorry.

“Ons leer baie by mekaar en ons trek almal in een rigting ten voordeel van die span,” sê Malherbe.

“Maar daar is agt spelers in ’n pak en sonder die manne agter jou gaan jy sukkel.”

Jacques Nienaber, Bok-breier, het besluit om by Saterdag se wenformule te hou en Kitshoff, Bongi Mbonambi en Malherbe is weer die opdrafvoorry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.