Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Wêreldrugby veroordeel Rassie-video

Wêreldrugby het ’n sterk bewoorde verklaring uitgereik waarin hy Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, voor stok kry vir kritiek wat hy verlede week in ’n video van meer as ’n uur lank op wedstrydbeamptes gerig het.

Nic Berry, die Australiese skeidsregter wat die eerste toets tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus behartig het, het meestal deurgeloop vir verkeerde beslissings wat hy ten koste van Suid-Afrika gemaak het.

Erasmus het ook voorvalle van vuilspel deur die Leeus wat ongestraf gelaat is, uitgelig. Daarbenewens het hy gesê Berry het ’n gebrek aan respek vir Siya Kolisi, die Bok-kaptein, getoon.

Ongeag hoe swak Berry ook al was, Wêreldrugby, die spel se internasionale beheerliggaam, duld nie kritiek teen sy blasers nie. Gevolglik is Erasmus en Saru voor ’n onafhanklike tugkomitee gedaag. Die datum van die tugverhoor is nog nie vasgestel nie.

Rassie Erasmus, direkteur van rugby vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, in sy rol as waterdraer/afrigter, in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus. Hy is in die moeilikheid by Wêreldrugby ná die kritiek wat hy teen die skeidsregter, Nic Berry, uitgespreek het. Foto: Getty Images

“Wedstrydbeamptes vorm die ruggraat van die sport en sonder hulle is daar nie ’n spel nie. Wêreldrugby veroordeel enige openbare kritiek van hul aanstellings, vertonings of integriteit wat hul rol, die gevestigde en vertroude terugvoer tussen afrigters en beamptes, en veral die waardes van die sport ondermyn,” het die beheerliggaam Maandagaand gesê.

“Wêreldrugby is, nadat al die inligting ingewin is, bekommerd dat individue uit albei kampe kommentaar gelewer het oor die keuse van en/of die vertoning van wedstrydbeamptes.

“Maar veral die uitgebreide en op-die-man-af aard van Rassie Erasmus se kommentaar in ’n video word as ’n oortreding van Wêreldrugby se Regulasie 18 (die gedragskode) beskou en sal nou deur ’n onafhanklike tugkomitee ondersoek word. Die datum en komiteelede sal mettertyd bevestig word.”

Wêreldrugby sê dat hy die bestuur van albei spanne herinner het aan die belangrikheid van en hul verpligtinge “ten opsigte van die waardes van die sport”.

“Ter wille daarvan om die integriteit van die sport en waardes te beskerm, sal Wêreldrugby sy gedragskode hersien ten opsigte van voorvalle van hierdie aard, met die oog daarop om die omvang, reëls en sanksies te versterk.

“Soos met enige toetsreeks, is Suid-Afrika teen die Britse en Ierse Leeus ’n skouspel van rugby wat vir groot opwinding en belangstelling sorg, veral in hierdie uitdagende tyd vir sport en die samelewing.

“Dis ’n geleentheid vir albei spanne en hul bestuur om ’n positiewe voorbeeld te stel en te konsentreer op die skouspel en wonderlike voorbeeld van rugby en die waardes daarvan op hul beste.”

Dat Saru en Erasmus só uitgesonder word, sal egter vir die Suid-Afrikaanse rugbygemeenskap ’n steen des aanstoots wees. Meer so omdat Warren Gatland, die Leeus se afrigter, skerp openbare kritiek gelewer het op die besluit om vir Faf de Klerk slegs ’n geel kaart te gee vir ’n gevaarlike duikslag in hul wedstryd teen ’n SA A-span.

Die Britse media het ook in die aanloop tot die eerste toets berig dat Gatland ontstoke was oor die aanstelling van die Suid-Afrikaner Marius Jonker as TV-skeidsregter vir die drie toetse.

Gatland het ná die tweede toets, wat deur Suid-Afrika gewen is, gesê dat hy nooit ’n woord oor Jonker se aanstelling gerep het nie en ook die hoop uitgespreek dat Wêreldrugby teen Erasmus optree oor sy video.

Saru het Maandagaand in ’n verklaring gesê dat hy kennis neem van Wêreldrugby se stappe en dat daar geen kommentaar sal wees voordat die verrigtinge afgehandel is nie.

• Die beslissende derde toets word Saterdag in die Kaapstad-stadion gespeel.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.