Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Wieses bars van trots oor Jasper se Leeus-toets

“Trots én benoud.”

So sê Elmaré Wiese oor haar seun, Jasper, wat Saterdag in sy eerste begintoets vir die Springbokke op agsteman uitdraf teen die Britse en Ierse Leeus.

Jasper Wiese sal Saterdag vir die eerste keer vir die Springbokke uitdraf. Foto: Facebook/SuperSport Rugby

“Trots is een woord en benoud is ’n ander, maar uiteindelik is die wens dat hy mooi sal speel en die span se naam sal hoog hou terwyl hy net sy beste sal gee op die veld,” het sy van die plaas op Grootdrink langs die Oranjerivier gesê.

Sy sê dit was klaar vir Jasper ’n groot oomblik toe sy droom waar geword het om vir die span gekies te word.

“Sy hart klop in sy keel en hy is baie gelukkig.”

Jasper se ouboet, Japie, ’n landboukundige vir Nexus in Upington, is net so opgewonde en Elmaré sê saam met pa Koos is die beste sitplekke voor die kassie klaar gereed vir Saterdag.

“Ons sal vir seker saam na die groot wedstryd kyk.”

Jasper se kleinboet, Cobus, is reeds terug in Manchester, Brittanje, waar hy vir die Sale Sharks speel.

Die afgelope maand was omtrent ’n handvol seëninge en feesvieringe vir die Wiese-familie en Elmaré en Koos kan nie trotser op hul kroos wees nie.

Nie net het Jasper en sy Anja afgehaak en is hy tot die Springbokspan verkies nie, maar Cobus en sy nooi, Rike-Mari, het ook stilletjies getrou.

Cobus en Rike-Mari is tydens ’n intieme geleentheid op 3 Julie by haar ouers, Rikus en Hildie du Preez, se huis in Patensie in die Oos-Kaap getroud.

Jassie, vandag kan ek jou verseker ons klomp Wieses bars uit ons nate van trots.

Die twee het die laaste paar weke hul wittebrood geniet totdat Cobus na Brittanje moes terugkeer waar hy vir tien dae in ’n hotel in Londen weens die Covid-19-maatreëls in isolasie moes wees.

Die isolasietydperk verstryk Sondag waarna hy Maandag na Manchester sal vertrek.

Rike-Mari moes eers in Suid-Afrika aanbly terwyl sy haar visumaansoeke voltooi.

“Ai, die afskeid was maar ’n hartseerstorie,” sê Elmaré oor die dolverliefde nuut getroudes.

Maar haar beker loop oor, want haar nes is nou vol, met die twee nuwe skoondogters en ’n span seuns wat hul drome aangryp.

’n Boodskap wat Japie vir Jasper op die vooraand van die Bokke se onlangse toetswedstryd teen Georgië gestuur het, is ’n bewys van die broers se hegte band.

“Jassie, vandag kan ek jou verseker ons klomp Wieses bars uit ons nate van trots. Jy het vir ’n klomp jare baie hard gewerk, die odds nog altyd uitgedaag, die onbekende aangedurf en nog altyd gekies om jou kop op te tel. Vandag het die groot droom aangebreek. Laat elke oomblik tel en hou voet op die vet – weet hier is ’n klomp mense wat bankvas agter jou staan.”

Meer oor:  Jasper Wiese  |  Saru  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.