Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Lood sê nee vir Franse; Jake jag nóg 2 van SA
Lood de Jager
Philip van der Walt . . . na Haaie.
Craig Burden . . . na Jake?
Bees Roux . . . na Jake?

Met die verwagte grootskaalse uittog van topspelers ná vanjaar se Wêreldbekertoernooi, was daar dié week ’n tikkie goeie nuus vir die Cheetahs en Suid-Afrikaanse rugby – Lood de Jager het besluit om ten minste ’n jaar langer ’n Bloemfonteiner te bly.

Verskeie spanne vry hard na dié 22-jarige oudleerling van die Hoërskool Hugenote in Springs – onder meer die Franse reus Toulon, wat die moontlikheid ondersoek het om hom as ’n plaasvervanger vir die uittredende Bakkies Botha of Ali Williams te kontrakteer.

Botha en Williams se roemryke loopbane is Vrydagaand beëindig, toe Morné Steyn se klubspan Stade Français ’n sege van 33-16 oor Toulon in die een halfeindstryd van die Franse Top14-liga behaal het.

Lees ook:

Leeus t. Stormers: Drome verflou

■ Koebaai, Bulle!

Bokkies se agttal bult spiere teen Samoa

Cheetahs val vas - maar Franco glimlag

Steyn se skopskoen is die afgelope tyd vuurwarm en hy het vier strafskoppe en drie doelskoppe teen Botha-hulle oorgeklits.

De Jager se kontraktering is goeie nuus vir Franco Smith se Cheetahs en hy kon met behulp van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), wat aan hom ’n Bok-kontrak van twee jaar toegeken het, behou word.

Volgens die agent BC du Plessis wou ander plaaslike unies ook De Jager se handtekening op een van hul spelerskontrakte hê, maar geniet dié Bok-slot nog sy rugby in die Cheetah-trui.

De Jager word as een van die belowendste slotte in Suid-Afrika beskou en is ná nege toetse ’n sterk aanspraakmaker om later vanjaar in die Bokke se Wêreldbeker-groep van 31 spelers ingesluit te word.

 Die Cheetahs het onlangs bevestig dat hulle die 22-jarige Haai-losskakel Fred Zeilinga en ’n 24-jarige haker van die Westelike Provinsie, Neil Rautenbach, gekontrakteer het.

Dít volg ná die nuus dat die Cheetahs se Bok-heelagter, Willie le Roux, hom ná die Wêreldbeker-toernooi drie maande lank saam met die Bul-agterspeler Francois Hougaard by die Japanse klubspan Canon Eagles sal aansluit. Le Roux het ook besluit om van 2016 af sy rugby saam met nog ’n Cheetah, die veelsydige Joe Pietersen, vir die Haaie te speel.

 Intussen groei Jake White  se ellelange Suid-Afrikaanse inkopielys steeds . . . 

Die Franse dagblad Midi Olympique berig dat as White sy sin kry, sal die gewese Haai-haker Craig Burden se naam binnekort saam met die oud-voorryman van die Cheetahs Bees Roux s’n ook in Montpellier se boeke wees.

Burden (30) en Roux (33) speel vir onderskeidelik Toulon en Oyonnax.

■ Intussen word die voormalige Cheetah-losvoorspeler Philip van der Walt binnekort ’n Haai.

Volgens Eduard Coetzee, kommersiële bestuurder van die Haaie, sal Van der Walt die volgende drie jaar vir die Durbaniete beskikbaar wees.

Sy agent, Jan-Harm van Wyk, sê daar was ook in Frankryk én Suid-Afrika belangstelling in Van der Walt se dienste – en hy het eers Vrydag ’n finale besluit oor sy toekoms geneem.

Die 25-jarige Van der Walt het die afgelope seisoen vir Biarritz in die Franse Pro D2-liga uitgedraf.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.