Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
MJ Mentz neem leisels oor by Jimmy Stonehouse
MJ Mentz. Foto: Gallo Images

Hoewel hy dankbaar is vir die kans om hom as ’n hoofafrigter in die Vodacombeker-reeks te vestig beskou MJ Mentz dié geleentheid as net ’n basis vir sy loopbaan.

Die Pumas het Maandag bevestig die voormalige Blitsbok gaan die leisels vir die duur van dié reeks by Jimmy Stonehouse oorneem, maar hy beplan om die voorkeurkandidaat te wees wanneer die unie later vanjaar ’n breier vir die Curriebeker-reeks aanstel.

“Daar is ’n opwindende nuwe tydperk wat voorlê vir die span,” het Mentz gesê.

“Elke span moet die een of ander tyd ’n proses van verandering en vernuwing ondergaan.

“Ons is ’n jong en effens onervare afrigtingspan, maar ons is dinamies en entoesiasties.

“Ek dink dit is die doepa wat die span tans nodig het.”

Mentz se gedrewenheid is beslis iets wat die unie se bestuur wil aanmoedig omdat dit mededinging vir die Curriebeker-pos gaan skep.

“Ons doen reeds die keuring, maar dit beteken nie MJ kan nie sy naam ook in die hoed gooi nie,” het Pieter Burger, die Pumas se besturende direkteur, gesê.

Ondanks die oorgangstydperk wat die span ervaar, gaan daar nie aan die suksesvolle spankultuur wat onder Stonehouse gevestig is, gekarring word nie.

“Ek het baie dinge by Jimmy geleer. Ons deel dieselfde waardes.

“Jimmy het ’n gedissiplineerde kultuur onder die spelers gekweek en dit is iets wat ek graag wil behou.

“Dit is belangrik dat ek en (hulpafrigter) Corné Steenkamp ons eie stempel afdruk,” het Mentz gesê.

 Intussen is die Pumas baie positief oor hul vooruitsigte vir die Vodacombeker nadat hulle ’n sterk groep vir die reeks aangekondig het.

Maar ás die manne van Mbombela (Nelspruit) dié titel gaan verower, gaan hulle dit met aanskoulike rugby vermag.

​Pumas-groep

JW Bell, Bernado Botha, Jaco Bouwer, JJ Breet, Uzair Cassiem, Marius Coetzer, Francois du Toit, Jason Colin Fraser, Lambert Groenewald, Johan Herbst, Frank Herne, Ruwellyn Isbell, Marco Kruger, Wilmaure Louw, Hoffman Maritz, Rudi Mathee, Jacques Momberg, Khwezi Mona, Sabelo Nhlapo, Sinovuyo Nyoka, Dewald Pretorius, Juan-Claude Roos, Marcello Sampson, Marnus Schoeman, Brian Shabangu, Pule Sibiya, Hennie Skorbinski, Frikkie Spies, Jannie Stander, Heinrich Steyl, De-Jay Terblanché, Drew van Coller, Eduan van der Walt, Reynier van Rooyen, Justin van Staden, Simon Westraadt.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.