Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
MNS het my soveel gegee, sê Joost van der Westhuizen
Joost van der Westhuizen se ouer broer, Pieter, het hardop getolk wat Joost sag gesê het Woensdagaand by die première van Glory Game: The Joost van der Westhuizen Story. Foto: Herman Verwey.

Die één ding wat Joost van der Westhuizen nog in sy lewe wil beleef "is om my kinders eendag te sien klaarmaak met skool".

En terwyl hy Jordan (11) en Kylie (9) se kinderjare meemaak, is hy ten volle gefokus daarop om 'n kuur vir die motorneuronsiekte (MNS) wat hom stelselmatig aftakel te help vind en ander lyers in die proses hul menswaardigheid te help behou.

"Motorneuronsiekte het my so baie gegee," sê die Springbok-legende in die dokumentêre rolprent Glory Game: The Joost van der Westhuizen Story, waarvan die première Woensdagaand by Montecasino plaasgevind het.

Lees ook: Die Springbo​kke gaan meer skop

"Ek is nou wie ek altyd veronderstel was om te wees. As 'n sportman is jou lewe dikwels vals, maar nou weet ek wat werklik belangrik is."

Glory Game, wat vervaardig is deur Blink Inc. onder die regie van die ondersoekende joernalis Odette Schwegler, vertel Van der Westhuizen se lewensverhaal, met sy stryd teen MNS as kern van die film.

Dit handel oor die meer as twee dekades wat verloop het sedert hy sy eerste treë na rugbygrootsheid op Loftus Versfeld se groen gras gegee het tot nou, waar sy afgetakelde lyf in skrille kontras staan met die dapperheid en positiwiteit waarmee hy elke dag aanpak.

Schwegler was in 2012 en 2013 die vervaardiger van Carte Blanche-insetsels oor Van der Westhuizen se lewe met MNS, en sê sy het toe besef syne is 'n storie wat sy as vollengte-film wil vervaardig.

"Hy het ons in sy lewe toegelaat en niemand wat deel was van hierdie proses onaangeraak gelaat nie," het sy Woensdagaand gesê. 

"My lewe is beslis verander - my perspektief is anders," sê sy. "Ons almal word party oggende wakker met die idee 'Moet ek regtig vandag werk toe gaan?' of 'n ander onbenulligheid, maar dan kry jy te doen met hierdie man wat nie weet wat die dag van môre gaan oplewer nie en deur dit alles steeds die humor in elke situasie inbring. 

"Aanvanklik was dit moeilik om verby sy siekte te kyk - nou sien ek net 'n wonderlike en inspirerende man wat die silwer randjie om elke wolk sien."

Glory Game sal van 21 Augustus af vir 'n week op silwerdoeke regoor die land wys, maar Schwegler sê as dit 'n sukses is kan dit moontlik vir langer gewys word.

Lees ook:

‘Transformas​ie moet van onder na bo geskied’

Trevor Nyakane ontken ​Cosatu se bewerings

Div: ‘Daar is steeds ​baie rassisme in rugby’

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.