Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Maks van Dyk gee Vrystaat ’n hupstoot
Die stut Maks van Dyk sal die eerste keer in 2015 se Curriebeker-reeks vir die Vrystaat uitdraf. Foto: Getty Images

BLOEMFONTEIN. – Die Vrystaat-rugbyspan het skielik ’n Super-hupstoot voor Saterdag se eerste Curriebeker-wedstryd hier teen die Blou Bulle gekry.

Die stut Maks van Dyk is terug in die Rosestad en kan ’n eerste keer in die reeks vir die Vrystaters uitdraf.

Lees ook: Arno Botha tot ​vyf weke op kantlyn

Al gaan hy dalk nie begin nie, kan Franco Smith, die Vrystaat-Cheetahs se breier, hom reeds vir die Bulle-stryd oorweeg.

Van Dyk het die laaste twee jaar as Griekwa-speler vir die Cheetahs Super-rugby gespeel, maar einde 2014 ’n kontrak met die Oostelike Provinsie-Kings gesluit.

Die 23-jarige vaskop is toe deur die Kings vrygestel om vanjaar hier in die Super-reeks uit te draf en sou daarna Curriebeker-rugby in Port Elizabeth speel.

Al het die Kings-spelers uiteindelik verlede Vrydag hul uitstaande salarisse ontvang, wou Van Dyk graag sy rugbyloopbaan hier voortsit.

Die voormalige Jong Bokkie is van sy Kings-kontrak vrygestel en sal hom tot einde 2016 by die Vrystaat aansluit.

Dit beteken hy sal ook weer vir Super-rugby beskikbaar wees. Dit is goeie nuus, omdat Coenie Oosthuizen dan vir die Haaie uitdraf.

Met die beseerde Oosthuizen by die Bokke, Danie Mienie en Ewald (Kop) van der Westhuizen by Griekwas, sal Van Dyk se ervaring baie vir die Vrystaat werd wees.

Van Dyk, wat in 2015 se Super-voorseisoen vir die Ierse klub Leinster diens gedoen het, het die laaste twee jaar reeds 24 Super-wedstryde gespeel.

Die ander vaskoppe in Smith se Curriebeker-groep, Luan de Bruin, Rudolph Botha, Conraad van Vuuren, Chase Morison en George Marich, is minder ervare.

Lees ook: Scarra ginnegaap t​erwyl Kaap brand

“Wat vir my die belangrikste is, is hy (Van Dyk) wou baie graag terugkom en het dit geniet om onder Daan (Human, skrumdokter) te werk.

“Uit ’n spanoogpunt het hy baie ervaring en het hy ook al heelwat Super-wedstryde gespeel.

“Hy het teen die einde van Super-rugby, in die twee wedstryde wat ek afgerig het, my verbaas met sy beweeglikheid en ywer,” het Smith gesê. Hy meen Van Dyk, wat reeds Maandag ingeval het, se ervaring sal ’n Curriebeker-bate wees.

“Ons is onervare in ’n paar posisies, waarvan stut een is.

“Om die Bulle of Westelike Provinsie aan te vat, wat met van hul Superrugby-spelers sit is altyd ’n uitdaging.”

Die beseerde losvoorspelers Jean Cook en Niell Jordaan was Maandagoggend nog toeskouers by hul span se oefening en daar sal waarskynlik nie teen die Bulle met hulle gewaag word nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.