Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
VRYSTATERS LOK BELLVILLE-BOORLING
Matie, Tukkie en nou ’n Cheetah
Kans op hoër vlak groter
Die slot Reniel Hugo het aan die Paul Roos Gimnasium gematrikuleer en het ook lank vir die Maties uitgedraf. Foto: gallo images

Die Cheetahs het hul slot-spens met Reniel Hugo aangevul.

Dié 24-jarige rugbykaptein van die Varsitybeker-droomspan sal hom reeds ná 21 April se wedstryd teen die Jong Bokkies in Stellenbosch by sy nuwe spanmaats in die Cheetahs-kamp aansluit.

Sy agent, Eduard Kelder, het aan Volksblad, ’n susterskoerant van Die Burger, bevestig dat Hugo tot einde 2016 vir die Cheetahs beskikbaar is.

Hugo speel die afgelope twee jaar vir die Tukkies nadat hy nog in 2013 die kaptein van die Maties se Varsitybeker-span was.

Die boorling van Bellville het ’n indrukwekkende CV. Hy het aan die Paul Roos Gimnasium gematrikuleer en in 2008 die Westelike Provinsie op Cravenweek-vlak verteenwoordig.

Hy het in 2010 sy Varsitybeker-buiging, vir die Maties, gemaak en ’n jaar later vir die Westelike Provinsie op Vodacombeker-vlak gerank.

Hugo, wie se pa, Niel, ’n voormalige WP- en Bok-slot is, het in 2014 en 2015 vir die Blou Bulle op Vodacombeker-vlak gespeel.

Met Victor Matfield en Grant Hattingh wat as die Bulle se voorste nr. 5-slotte beskou word, het Hugo nog nie die speelkans in Pretoria gekry waarop hy sou hoop ná sy skuif uit Stellenbosch nie.

Sy kanse om Super- en Curriebeker-rugby te speel, is beslis beter as ’n Cheetah.

Hy sal egter steeds met slotte soos Lood de Jager, Francois Uys, Carl Wegner, Boela Serfontein, Hilton Lobberts en Armandt Koster om ’n plek in die Cheetahs se Superrugby-span meeding.

Serfontein en Lobberts was weens beserings nog nie vanjaar vir die Cheetahs of hul Vodacombeker-spanne, onderskeidelik die Vrystaat en Griekwas, in aksie nie.

Hugo, wat 1,97 m lank is en 110 kg weeg, was sonder enige twyfel die voorste vyfslot in vanjaar se Varsitybeker-reeks en die Cheetahs kan hom as ’n goeie kopie beskou.

Veral omdat daar nog onsekerheid bestaan oor wat die Wêreldbeker-Bokke se presiese betrokkenheid in vanjaar se Curriebeker-reeks is.

Die moontlikheid bestaan selfs dat die Cheetahs sonder De Jager in dié reeks sal moet klaarkom, wat die deur op speelkans op ’n hoër vlak vinnig vir Hugo kan laat oopswaai.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.