SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Rugby
Oud-Streeptrui word gou ’n Poubloue
Dylon Frylinck

Dis onseker of ’n voormalige skrumskakel van die Stormers en Westelike Provinsie reeds Saterdag op Nuweland deur Griekwas teen sy ou spanmaats losgelaat gaan word.

Hawies Fourie, afrigter van die Poubloues, het Dinsdag onthul dat Dylon Frylick, deesdae van die Oostelike Provinsie-Kings, hom eersdaags by hulle in die Diamantstad gaan aansluit om diepte in dié sleutelposisie te verskaf.

Met die plaasvervanger-skrumskakel Rudi van Rooyen wat die res van die Curriebeker-reeks weens ’n skouerbesering buite aksie gaan wees, het Fourie geen ander keuse gehad as om sy diepte aan te vul nie.

Van Rooyen was Tian Meyer, die Griekwas se kaptein, se adjudant in die Curriebeker-reeks gewees.

“Dylon Frylinck se agent, Johan Germishuys, het bevestig dat hy na Kimberley op pad is. Hy sal tot aan die einde van die Curriebeker-reeks by ons diens doen,” het Fourie gesê.

Die breier het egter nie uitgelap of hy Frylinck al Saterdag in die wegwedstryd teen die Westelike Provinsie gaan inspan nie.

Op so kort kennisgewing is Frylinck, wat ook al die Pumas verteenwoordig het, glad nie ’n slegte plaasvervanger vir Van Rooyen nie.

Hy het vanjaar nog vir die OP in die Vodacombeker-reeks uitgedraf en het voor dit verlede jaar vir die Westelike Provinsie in die Curriebeker-reeks gespeel.

Frylinck het in die Superrugby-reeks in 2014 ook by die Stormers ingeskakel, maar elke slag die plaasvervangerbank warm gehou en teenoor Nic Groom en Louis Schreuder tweede viool gespeel.

Lees ook:

Schalk Brits: Gryse​r, maar wyser

Josh Straus​s glip by WB in

Net All Blacks meer ​ervare as Bokke by WB

‘Kings staak nie en sá​l Saterdag teen Leeus speel’

Leeus se plan met Wa​rren Whiteley

Suidoos waai ​sterk in Streeptrui-kontrei

Griekwas sal in die geheim duim vashou dat Frylinck in die Poublou-trui gedy, veral omdat hulle volgende jaar die dienste van Meyer kwyt is.

Meyer sluit hom einde vanjaar by die Vrystaat-Cheetahs aan.

 Intussen is daar nog beseerdes waaroor Fourie-hulle sweet en sal hulle in alle waarskynlikheid Woensdag aan fiksheidstoetse onderwerp word voordat die groenlig vir hul deelname in die Kaap gegee word.

“Spelers soos Michael van der Spuy (senter) en Danie Mienie (stut) sukkel nog met ligte beserings en ons sal hulle soveel as moontlik tyd gun om hul fiksheid te bewys voordat ons besluit hoe die span daarna uitsien,” het Fourie gesê.

Die Poubloues behoort op die laaste Donderdag hul beginspan vir die Curriebeker-kragmeting teen die Streeptruie aan te wys.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.