Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ox Nche, Conraad van Vuuren anker Shimlas se skrum
Die Super-flank van die Cheetahs, Tienie Burger, versterk die Shimlas in die pylvak van die Varsitybeker-reeks. Foto: Gallo Images

Die jong stutte Ox Nche en Conraad van Vuuren kry Maandag op Shimlapark as lede van die Shimlas-voorry teen die Pukke kans om te bewys dat hulle vir hoër louere bestem is.

Nche en Van Vuuren is tot dusver in die Varsitybeker-reeks meer as impakspelers deur die Shimlas-breier, Franco Smith, gebruik, maar die afrigter het besluit die tyd is ryp om hulle teen ’n ervare span soos die Pukke saam met Elandré Huggett in die voorry los te laat.

“Ox en Beertjie het tot dusver in die reeks min beginkans gekry en dit is tyd dat hulle kans kry teen ’n span soos die Pukke.

“Hulle is albei jong spelers met baie talent en ek is oortuig hulle is vir hoër louere bestem. Ek is baie opgewonde oor die spel wat hulle lewer,” het Smith gesê.

Met Shimlas wat reeds seker is van ’n plek in die halfeindronde van die reeks, sou ’n mens te wagte wees dat Smith van sy staatmakers soos Huggett en die heelagter en kaptein, AJ Coertzen, ruskans sou gee.

Maar die ervare Smith, wat al in Italië afgerig het, weet dit is nie altyd die regte roete om te volg nie.

“Ek het al baie gesien dat spelers se spelpeil taan as hulle gerus word. Daarom word niemand gerus wat nie nodig het om te rus nie.

“Ons gaan voluit. Daar is net nege wedstryde in die reeks en daarom gaan ons niks terughou teen die Pukke nie,” het Smith bygevoeg.

Shimlas, tans onoorwonne in die reeks en in die tweede plek op die punteleer, sal teen die Pukke sonder die slot Neil Claassen oor die weg moet kom.

Hy het sy ligamente geskeur en word deur Boela Venter in die beginspan vervang met De Wet Kruger wat op die plaasvervangerbank sit.

Die Cheetahs-flank Tienie Burger het herstel van sy bromponie-ongeluk en is vandag ’n Shimlas-plaasvervanger.

■ Skeidsregters: Francois Pretorius, Rodney Boneparte.

■ TV-skeidsregter: JJ Wagner.

■ Afskop: 19:00 (SS 1).

 Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se Ixias kom vandag in die SUT-stadion teen die Maties te staan. Ixias is nog segeloos, maar kan verras teen ’n Maties-span wat self nog net twee kragmetings gewen het.

Spanne:

Ixias: Henry immelman, Lethole Makoena, Jacques Nel, Ali Mgijima, Mosego Toolo, Duan Pretorius (k), Christiaan Erasmus, Jean Pretorius, Jean-Claude Fourie, Dean Kouprihanoff, Fanie Coetzee, JJ Nel, Niel Schoombee, Jeandre Roux, Len Noort. PLAASVERVANGERS: Niel Schoombee, Ian Smith, Daneel Botes, Victor Maruping, Dean Jacobs, Dean Rossouw, Naudé van Biljon, Boetie Makethlo.

Maties: Mike Muller, Jamie Joseph, Paul Streicher, Koos Loubser, Craig Barry, Brandon Thomson, Bjorn Bernardo, Janco Venter, Derick Linde (k), Justin Benn, Kobus van Dyk, Lourens Fick, Jacobus van der Merwe, Marko Janse van Rensburg, Niel Oelofse. PLAASVERVANGERS: Craig Corbett, Wesley Adonis, Grant Prior, Lungelo Chonco, Louis Nel, Ernest Stapelberg, Kyle Leibrandt, Abel de Klerk.

■ Skeidsregters: Pro Legoete, Jaco Pretorius.

■ Afskop: 18:30.

■ Vandag se ander Varsitybeker-wedstryde (tuisspanne eerste): 16:45 (SS 1): Madibaz t. Tukkies; 18:30: Ikeys t. UJ.

■ Vandag se Varsityskild-wedstryde: 18:30: Fort Hare t. UWK; 18:30: TUT t. Wits.

 Vandag se o.20-bepalings: 16:00: Ikeys t. Pukke; 19:00: Madibaz t. Tukkies.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.