Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
DITSEM, WIT BULLE!
Pierre Spies glo grondslag is gelê vir sege teen Stormers
Die Bulle se JJ Engelbrecht (met die bal) probeer Lwazi Mvovo (links) van die Haaie afstamp in Saterdag se Superrugby-wedstryd op Kingspark in Durban. Foto’s: Christiaan Kotze
Oë op die bal. Die Bulle se pronkvleuel Francois Hougaard was rotsvas onder die hoë bal in Saterdag se kragmeting met die Haaie.
Dié kant toe! Die Bulle se senter Burger Odendaal probeer die Haaie se Waylon Murray ontglip..

Vir Frans Ludeke is rugby ’n ernstige besigheid en daarom sien jy hom nie aldag breed glimlag nie, selfs al wen sy span.

Saterdagaand was daar op Kingspark in Durban ’n baie breë glimlag wat sy gesig opgehelder het nadat sy Bulle die Haaie met 17-10 geklop het. Die Pretorianers het sodoende bly klou het aan die boonste plek van die Suid-Afrikaanse spanne op die puntelys.

Lees ook:

Heinric​h Brüssow se besering het Reds gehelp

Beseringspook in St​ormers-kamp

Somber atmosfeer on​der Haaie

“Dit is ’n fantastiese gevoel om hier na ’n plek te kom waar ons nie baie wen nie en die telbord is in ons guns,” het hy gesê.

“Ons het baie goed gespeel en ek glo die verskil was dat ons die groot oomblikke in ons guns laat eindig het.”

Hy glo die drie wat die vleuel Francois Hougaard net voor rustyd gedruk het, was ’n keerpunt in die wedstryd.

“Ons het in die eerste helfte al die besit en gebiedsvoordeel gehad en goeie kanse geskep. Dit was nodig dat ons dit met daardie drie aangegryp het,” sê hy.

“Daar was regtig nie veel te kies tussen die spanne nie en hierdie stryd is in ’n toetsatmosfeer beslis,” erken Ludeke.

“Ons het met die druk wat ons op hulle geplaas het strafskoppe uit hulle gewurg. Jy kan nie ’n wedstryd soos hierdie ingaan sonder ’n betroubare stelskopper nie en daarom was dit wonderlik om Handré (Pollard) terug te hê,” het Ludeke gesê.

Die kaptein, Pierre Spies, het gesê hy het gedink die vierde en laaste strafdoel waarmee Pollard enkele minute voor die einde die Haaie se lot verseël het, was dalk net té ver en buite sy bereik.

“Ek het vir hom gevra of hy nie dink dit is té ver en moet eerder kantlyn toe skop, maar hy het gesê hy sien kans daarvoor,” het Spies geglimlag.

Ludeke was vol lof vir sy kaptein.

“Hierdie is ’n vreemde spel. Verlede jaar kon ons nie die naby-wedstryde in ons guns laat eindig nie.

“Daarom is dit só belangrik om iemand soos Pierre aan die stuur te hê wat weet wat om te doen wanneer dinge so gelykop verloop en dan koelkop kan bly,” sê hy.

Spies glo hierdie wegsege het ’n goeie grondslag gelê vir Saterdag se stryd teen die Stormers in die Kaap.

Hoewel Ludeke meen dit kan nog nie as die eindstryd vir die Suid-Afrikaanse groep beskou word nie, voel hy tog die span wat gaan wen, gaan die momentum hê vir die laaste deel van die liga-reeks.

Die skrumskakel, Rudy Paige, wat ’n groot aandeel in Hougaard se drie gehad het toe hy steelkant om gebreek het, is deur Ludeke beskryf as ’n “baie besige speler”.

Die flank Jacques du Plessis was ook uitstaande, terwyl die haker, Adriaan Strauss, een van sy beste wedstryde nóg vir die Bulle gespeel het sedert sy skuif uit die Vrystaat.

 Puntemakers:

Bulle 17 (8): Drie: Francois Hougaard. Strafdoele: Handré Pollard (4).

Haaie 10 (3): Drie: Marcell Coetzee. Doelskop: Fred Zeilinga. Strafdoel: Zeilinga.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.