Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pumas leen flank by Leeus
Die Pumas het Lambert Groenewald se dienste vir vanjaar Curriebeker-reeks bekom. Foto: Gallo Images

 Lambert Groenewald, ’n randfiguur in die Leeus se groep losvoorspelers, gaan sy nomadiese rugby-loopbaan by die Pumas voortsit.

Die 25-jarige oopkantflank, wat ook op agtsteman kan uitdraf, was die noemenswaardigste van vier nuwe aanwinste wat die manne van Mbombela (Nelspruit) gister aangekondig het.

Hy word vir die Vodacombeker- en die Curriebeker-reeks by die Gautengers geleen.

Groenewald was ’n staatmaker in die Haaie se jeugstrukture en het die Durbaniete op elke vlak verteenwoordig.

’n Skuif na Brescia aan die einde van 2011 het dit laat lyk asof die boorling van Worcester nóg ’n aangenome Italiaanse speler sou word, maar hy is ’n jaar later na Ordizia in Spanje.

Met die Leeus wat in 2013 hul voorraad spelers dringend moes aanvul weens hul uitsluiting uit Superrugby, was Groenewald ’n ideale en beskikbare kandidaat.

Maar nuwe sterre soos Jaco Kriel, Warwick Tecklenburg en Willie Britz het sy geleenthede uiteindelik beperk.

Groenewald kan egter die man wat hy vervang, Renaldo Bothma, se voorbeeld volg.

Dié woelige agtsteman, wat ’n uitstekende Curriebeker-veldtog gehad het, het ’n Superrugby-kontrak by Gary Gold se Haaie losgespeel.

Jason-Colin Fraser, ’n staat­maker vir Boland verlede seisoen en ’n voormalige o.21-speler van die Leeus, gaan die nodige mededinging in die losvoorspeler-posisie verskaf.

Khewzi Mona (’n 23-jarige losskakel van die Haaie) en Pule Sibiya is die Pumas se ander aanwinste. 

– Heinz Schenk

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.