Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugbykampioenskap
Bokke ‘weet hoe om terug te veg’

Dit is rugby. Sommige dae werk jou planne, ander dae nie.

Dit is die Springbok-voorspeler Franco Mostert se eenvoudige uitkyk oor Sondag se nederlaag teen Australië in die Rugbykampioenskap.

Die Springbok-stutte Vincent Koch (links) en Steven Kitshoff doen Dinsdag strek-oefeninge in Brisbane. Die Bokke het gemengde welslae in die skrums behaal in Sondag se nederlaag teen die Wallabies. Foto: Gallo Images

Hy is van mening die Wallabies het op die dag ’n groter begeerte gehad om te wen, maar voeg by die Bokke weet hoe om van die vloer af op te staan.

Wanneer ’n span so van stryk af is soos die Springbokke Sondag was en steeds naby daaraan kom om die Aussies op tuisbodem te klop, is dit darem nie nodig vir drastiese veranderinge nie, sê Mostert.

“Ons was al hier (in dié situasie) en weet wat om te doen. Australië het goed gespeel en het ’n groter honger gehad om te wen. Ons dissipline het ons in die steek gelaat en ons het te veel onnodige foute gemaak,” sê hy.

“Die ouens is positief en ons werk hard, so hopelik kan ons die naweek ’n sterk vertoning lewer.”

Die Springbokke was in Julie in dieselfde bootjie toe hulle die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus verloor het, maar dit die volgende week met ’n puik oorwinning van 27-9 opgevolg het.

Mostert sê daar sal nie ná die onoortuigende poging teen die Wallabies in die Goudkus van die span se beproefde spelpatroon afgewyk word nie.

“Nee, ons gaan nie ons plan verander nie. Dit wat ons doen, werk vir ons, maar ons moet ons uitvoering verbeter.”

Franco Mostert, flank van die Springbokke, rank hoog in Sondag se toets in die Rugbykampioenskap teen die Wallabies in die Goudkus. Foto: Getty Images

Hy sê die aanpassing langs die kant van die skrum in die beseerde Pieter-Steph du Toit se plek, is ’n maklike een.

“Ek dink ons almal sal met enige nommer op die rug speel, net om in die groep te wees. Om by ’n briljante speler soos Pieter-Steph oor te vat is ’n eer. Ek doen my bes om hom en al die ondersteuners trots te maak,” sê Mostert.

“Dit was tot dusver nie vir my moeilik om flank toe te skuif nie.”

Die slot Nicolaas Janse van Rensburg het hom intussen weens persoonlike redes aan die Springbok-groep onttrek.

Die 27-jarige oud-Affie het verlede maand sy eerste toets in die Baai teen Argentinië gespeel en was saam met Mostert, Lood de Jager, Eben Etzebeth en Marvin Orie die spesialisslotte in die groep vir die Rugbykampioenskap.

Die veelsydige Rynhardt Elstadt en Jean-Luc du Preez kan in sy afwesigheid op slot oorweeg word, sou daar beserings in die tweede ry opduik.

“Dit is altyd hartseer om ’n speler te verloor, veral ’n goeie spanman soos Nicolaas, maar hy het persoonlike sake waaraan hy moet aandag gee en ons Springbok-familie ondersteun hom,” sê Jacques Nienaber, Bok-afrigter.

“Gegewe die streng Covid-19-protokol wanneer jy in Australië aankom, wat verpligte kwarantyn van twee weke insluit, sal hy nie weer by ons aansluit nie. Ons het gelukkig genoeg diepte in die groep vir die komende toetse teen Australië en Nieu-Seeland.”

Meer oor:  Franco Mostert  |  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.