Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugbykampioenskap
Davids skerm vir Pollard en Willemse

Handré Pollard en Damian Willemse is in die spervuur ná die Springbokke se vrot korrelwerk pale toe Sondag teen die Wallabies in die Rugbykampioenskap.

Hoewel Willemse net by een geleentheid ’n stelskop verbrou het, word aangevoer die Bokke moet juis ’n betroubare skopper op die plaasvervangersbank hê met Pollard wat so onbestendig is.

Kajuitraad. Jacques Nienaber, hoofbreier van die Springbokke, gesels Dinsdag met van sy hulpafrigters, Deon Davids (heel links) en Daan Human. Foto: Getty Images

Pollard het Sondag met drie skoppe pale toe misluk en het in die onlangse toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus ’n beskeie suksespersentasie van 68% gehad.

Daar is diegene wat pleit dat Morné Steyn weer in die 23-tal ingesluit word, terwyl ’n ander losskakel van die Bulle, Johan Goosen, se naam ook al hoe meer opduik.

Deon Davids, voorspelerafrigter van die Springbokke, het Dinsdag vir Pollard en Willemse in die bres getree.

Davids sê Pollard het uit die staanspoor erken dit was nie sy beste dag nie.

Hy het die vermoë en die ervaring om dit wat die naweek nie gewerk het nie, reg te stel.

“Handré is ’n topberoepspeler en ons weet wat hy kan doen. Hy is iemand wat trots is op sy spel en ons is vol vertroue dat hy hard sal werk om te verbeter,” sê Davids.

“Hy het die vermoë en die ervaring om dit wat die naweek nie gewerk het nie, reg te stel.”

Willemse is ’n talentvolle speler wat nie op grond van een wedstryd na waarde geskat kan word nie, benadruk Davids.

“Hy het boonop onder meer ’n drie gekeer (met ’n puik plettervat),” sê hy.

“Ja, Damian het daardie stelskop gemis, maar hy het soveel goeie deugde dat jy na die volledige prentjie moet kyk en dit wat hy Suid-Afrikaanse rugby vorentoe kan bied.”

Willie le Roux, heelagter van die Springbokke, oefen sy skopwerk ter voorbereiding van die span se herontmoeting met Australië Saterdag in Brisbane. Foto: Getty Images

Davids sê daar is ’n deeglike ontleding gedoen in die nadraai van die Bokke se nederlaag met 26-28 teen Australië.

“Die stelskoppe en dissipline is van die kwessies waarna ons kyk, maar ook ons verdediging en ons skoptaktiek in die geheel.”

Die besoekers sal ook Saterdag in die herontmoeting in Brisbane beter in die vaste fasette beloon wil word.

Daarvoor, sê Davids, is dit nodig dat “die prentjie wat ons as afrigters sien en dit wat die skeidsregters sien in pas met mekaar is”.

“Kyk, ons sal heel eerste erken dit was nie ons beste vertoning nie. Alle lof vir die Wallabies, wat ’n baie goed afgerigte span is,” sê hy.

As jy kyk na hoe naby ons daaraan gekom het om die wedstryd te wen en die impak wat daardie drie spelers gemaak het, is ons oortuig daarvan dit het vir ons gewerk.

“Ons vaste fasette is ’n belangrike deel van ons mondering en ons verstaan nou beter waaraan ons moet werk om groter beloning te kry. Dit is ons doelwit.”

Daar was ook reeds ’n gesprek oor die balans op die bank nadat daar Sondag drie losvoorspelers – Marco van Staden, Jasper Wiese en Kwagga Smith – as impakspelers opgestuur is.

“Dit is iets wat ons in heroënskou neem. As jy kyk na hoe naby ons daaraan gekom het om die wedstryd te wen en die impak wat daardie drie spelers gemaak het, is ons oortuig daarvan dit het vir ons gewerk. Daar kan dalk veranderinge wees, maar dié spelers het beslis ’n verskil gemaak.”

Die Springbokke is voorts hoopvol dat hulle Saterdag skerper sal wees ná die vorige twee weke se kwarantyntydperk.

“Om eerlik te wees, dit was ’n taai situasie. Maar ook, die groep het mettertyd goed by die uitdagings aangepas wat Covid gebring het,” sê Davids.

“Ek kan hulle net aanprys in dié opsig. Ons wil egter nie verskonings maak nie. Ons was nie so skerp en akkuraat soos wat ons moes wees nie en spelers soos Duane (Vermeulen) en Faf (de Klerk) het lank laas gespeel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.