Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugbykampioenskap
Jacques hou emosies in bedwang

’n Doodsnik-nederlaag is altyd ’n bitter pil om te sluk, maar die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, het die emosie opsy geskuif toe hy sy span vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die Wallabies in Brisbane gekies het.

Uit die twee veranderinge aan die span wat verlede naweek in die nederlaag van 26-28 opgedraf het, is net een uit vrye wil – die keuse van Trevor Nyakane in die plek van Steven Kitshoff as loskopstut. Kitshoff is op die bank in Ox Nche se plek.

Marvin Orie moet Saterdag Lood de Jager se groot skoene as die Springbokke se nr. 5-slot teen die Wallabies in Brisbane vul. De Jager het harsingskudding opgedoen. Foto: Gallo Images

Lood de Jager het harsingskudding, wat beteken dat Marvin Orie die geleentheid kry om in net sy sewende toets op slot te begin.

Op losskakel is Handré Pollard, ondanks sy swak korrelwerk, die valbyl gespaar. Trouens, Nienaber het dit nie eers nodig geag om Elton Jantjies of Morné Steyn as losskakel op die plaasvervangersbank te kies nie. Damian Willemse, wat ook ’n skop verbrou het, is steeds op ’n bank van ses voor- en twee agterspelers.

“Ons benader spankeuses so onemosioneel as moontlik,” verduidelik Nienaber.

“As ons die bal beveilig het by daardie laaste afbreekpunt waar Nic White dit gesteel het, sou ons dit net moes uitskop om met ’n punt te wen. Dan sou ons almal hier gesit en glimlag het.

“Ons kyk objektief daarna. Soms wen ons, maar het net vier uit die 12 dinge goed gedoen wat ons as maatstawwe gebruik. Al het ons dan met 20 punte gewen, beteken dit nie dat ons goed gespeel het nie. Ander kere verloor ons ondanks die feit dat ons 11 uit 12 gekry het.

Handré Pollard het genoeg deugde dat drie verbroude skoppe hom nie sy plek in die Springbok-span gekos het nie. Sy swak stelskopwerk het wel verlede week ’n beduidende rol in die Springbokke se nederlaag teen die Wallabies gespeel. Foto: Getty Images

“Niemand verbrou skoppe, slaan die bal aan of mis duikslae doelbewus nie. Niemand sou ’n woord gerep het as ons die toets gewen het nie.”

’n Mens hoef natuurlik net na Pollard se spelgeskiedenis te kyk om waardering te hê vir die punt wat Nienaber maak. Drie verbroude skoppe maak een van die wêreld se beste losskakels immers nie oornag Suid-Afrika se tweede of derde beste nie.

Oor die keuse van Nyakane noem Nienaber dat hy ervare is en nog in die Bokke se voorlaaste toets teen Argentinië as loskopstut begin het.

“Hy moes in die middel van die eerste helfte afkom omdat hy ’n besering opgedoen het. Hy oefen nou weer voluit, so ons kan hom weer kies. Ons weet almal hoe goed Trevor teen die Britse en Ierse Leeus gespeel het, so dis lekker om hom terug te hê.”

Trevor Nyakane se goeie spel teen die Britse en Ierse Leeus het ’n rol in sy insluiting in die Springbokke se beginspan vir Saterdag se kragmeting met die Wallabies in Brisbane gespeel. Hier vier hy ná die derde toets teen die Leeus in Kaapstad. Foto: Getty Images

De Jager se ervaring van 51 toetse sal baie gemis word, maar in Orie kry die Bokke ’n speler wat bedrewe in die lynstane en onder afskoppe is.

“Lood se ervaring is die eerste ding wat by my opkom (in terme van wat gemis sal word). Bygesê is Marvin eintlik ’n ervare slot. Hy het baie eersterangse en Superrugby-wedstryde onder sy gordel. Hy en Eben (Etzebeth) ken mekaar ook goed van hul skooldae af. Ons vertrou Marvin en sien uit na wat hy vir ons gaan bring.”

Nienaber het skopwerk, verdediging en veral dissipline uitgesonder as aspekte van die Bokke se spel waarop verbeter sal móét word om Saterdag te wen.

“Hulle het 21 punte (met strafskoppe) aangeteken en vier daarvan het van onkantspel gekom. Dis die meeste vir onkantspel sedert ek betrokke geraak het,” sê hy.

’n Onemosionele ontleding van verlede naweek se nederlaag teen die Wallabies het die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, laat besluit om nie veel voor Saterdag se kragmeting in Brisbane aan sy span te timmer nie. Foto: Getty Images

“Ons lakwerk was benede standaard en ons skopwerk was ook nie goed nie. Ons het ses punte afgestaan in gevalle waar ons uit ons helfte moes gekom het, waar ons die besit gehad maar strafskoppe afgestaan het. Ons het gewerk om daardie dinge reg te stel.”

Springbokke: Willie le Roux, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen, Franco Mostert, Siya Kolisi (k), Marvin Orie, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Trevor Nyakane. PLAASVERVANGERS: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Marco van Staden, Kwagga Smith, Jasper Wiese, Herschel Jantjies, Damian Willemse.


Meer oor:  Springbokke  |  Wallabies  |  Australië  |  Bokke  |  Jacques Nienaber  |  Rugbykampioenskap  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.