Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ruhan Nel kan teen Kwagga Smith, broer in CB speel
Die Blitsbok Ruhan Nel wys hoe sterk hy is op ’n oefenkamp in Stellenbosch. Foto: Carl Fourie | Gallo Images

KAAPSTAD. – Ruhan Nel lek reeds sy lippe af vir ’n moontlike tweestryd met die Westelike Provinsie se Springbok-senter Juan de Jongh.

Dan is daar ook die vooruitsig om teen sy Blitsbok-spanmaat en goeie vriend, Kwagga Smith, en jonger boetie, Jacques Nel, te speel wanneer Griekwas die Leeus in die Curriebeker-reeks pak.

Die veelsydige Blitsbok-speler sluit hom Vrydag by Griekwas aan vir die Curriebeker.

Volgens hom wou hy nie sommer net vyftienmanrugby los nie.

Hy het nog verlede jaar vir die Leeus uitgedraf.

Sewesrugby bly egter met die oog op die Olimpiese Spele in 2016 nommer-1 op sy lysie.

“Vir nou sal sewes egter voorkeur geniet, bedoelende as die skedules van sewes en vyftiens bots, sal ek sewes kies.”

Nel is gretig om sy terugkeer tot vyftienmanrugby te maak en dit was altyd die plan om terug te keer na die kode.

Hy voeg by die skuif sal hom help met sy fisiekheid in sewesrugby en dit sal hom wedstrydskerp hou voor die nuwe seisoen van Wêreldrugby se Sewesreeks in Desember begin.

Die feit dat hy moontlik teen van sy sewesmaats en selfs sy boetie kan speel, maak hom opgewonde.

“Dit sal beslis ’n uitdaging wees, maar is een waarna ek uitsien. My broer Jacques is deel van die Leeus-groep en dus is daar ’n moontlikheid dat ek teen hom kan speel. Dit sal nogal spesiaal wees.”

Die Blitsbokke het vanjaar ’n voorseisoen van vier maande en daar word beplan om twee opwarmingstoernooie in die tyd te speel.

Hulle sal eerste aan vanjaar se SAFLand-sewestoernooi van 24 tot 26 September in Windhoek, Namibië, deelneem. Neil Powell, die Blitsbok-breier, kan moontlik dié toernooi inspan om van die akademie-spelers in aksie te sien.

’n Maand later sal die Blitse aan die gewilde Singapoer Krieketklub-sewestoernooi deelneem, wat as opwarming vir die senior spelers kan dien.

Die eerste toernooi van die nuwe uitgebreide sewesseisoen van 10 toernooie is op 4 en 5 Desember in Doebai. Londen speel gasheer vir die laaste toernooi (21-22 Mei) voor die Spele.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.