Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SWD soek ervare no.2
Die ervare haker Hannes Franklin sal nie hierdie seisoen verder vir die Arende beskikbaar wees nie. Foto: Werner Hills

PORT ELIZABETH. – Die rugbyspan van die SWD-Arende sit met ’n “redelike kopseer” voordat volgende week se uitspeelwedstryde vir die Curriebeker-reeks se Premierliga begin.

“Hannes Franklin is Frankryk toe om daar te gaan klubrugby speel,” het Bevin Fortuin, die Arende se afrigter, gesê.

“Ek sou dit nie as ’n krisis beskryf nie, maar dit laat ons sonder ’n werklik ervare haker en dis ’n redelike kopseer.

“Maar ons het darem ’n paar spelers wat kan haak.”

Volgens Fortuin is dit ’n geleentheid vir hulle om hul kleim af te steek.

Die Arende het Wayne Khan en Layle Delo steeds in hul geledere en het Kurt Haupt van die Tukkies bygekry.

Haupt is glo deur die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, by Fortuin aanbeveel.

“Daar is ook ’n kans dat ons Dane­ van der Westhuyzen by die OP-Kings kan leen,” het Fortuin gesê.

Oor die uitspeelwedstryde is Fortuin baie opgewonde en positief. “Dis ’n groot kans om weer in die Premierliga te speel en ons sal voluit gaan om dit te probeer regkry.

“Ons het ’n redelik goeie Vodacombeker-reeks agter die rug waarin ons die eerste keer in ’n lang tyd weer die kwarteindronde gehaal het.

“Van ons jonger spelers het ook hul kans aangegryp en ons het die kans gehad om mooi na die diepte in ons unie te kyk.”

Twee klubspelers wat goed genoeg gevaar het om kontrakte te kry, is die vleuel Hentzwill Pedro en die senter Anver Venter.

“Ons moes egter ook ’n paar versterkings kry omdat dit nie altyd maklik is om net ’n klubspeler in te span nie,” het Fortuin gesê.

Die OP-skrumskakel Dwayne Kelly en -senter Brian Skosana; die Madibaz-spelers Jarryd Buys (heelagter), Marcel Groenewald (flank) en Dexter Fahey (stut); asook die Puk Peet van der Walt (flank/slot) tel onder die aanwinste.

Roy Godfrey, die Madibaz se loskopstut en kaptein wat reeds verlede jaar vir die Arende uitgedraf het, is terug in George.

Dan oefen die voormalige Springbok-losvoorspeler Davon Raubenheimer ook saam met die Arende.

“Ons moet nog besluit of ons Davon gaan kontrakteer en hy moet nog besluit of hy by ons wil speel,” het Fortuin gesê.

Raubenheimer, wat ook vir die Cheetahs en Griekwas uitgedraf het, het verlede jaar laas provinsiale rugby gespeel, vir die Griffons.

Volgens Fortuin probeer die unie om sy “seuns” terug te kry.

Groenewald was byvoorbeeld in Oudtshoorn op skool voor hy draaie by die Haaie, die Luiperds en die Madibaz gaan maak het.

  • Die Arende speel volgende week teen die Luiperds in Potchefstroom, in die eerste van hul uitspeelwedstryde.

  •  Arende se groep:

    ​Agterspelers: Karlo Aspeling, Alshaun Bock, Jarryd Buys, Martin du Toit, Mzo Dyantyi, Danie Faasen, Dwayne Kelly, Hentzwill Pedro, Daniel Roberts, Gerrit Smith, Anver Venter, Elric van Vuuren, Luzuko Vulindlu, Clint Wagman.

Voorspelers: Junior Bester, Ashley Buys, Layle Delo, Christo du Plessis, Dexter Fahey, Roy Godfrey, Marcel Groenewald, Kurt Haupt, Lyndon Hartnick, Grant Kemp, Wayne Khan, Raoul Larson, Grant le Roux, Schalk Oelofse, Buran Parks, Shaun Raubenheimer, Janneman Stander, Peet van der Walt, Mzwanele Zito.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.