Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle se vleuel trek oor jukskei, Pumas-ster na die Haaie
Sampie Mastriet word ’n Leeu
Sampie Mastriet vroeër vanjaar in aksie in ’n oefening van die Blou Bulle in Pretoria. Hy speel aanstaande seisoen vir die Leeus. Foto: Christiaan Kotze
Renaldo Bothma sal in 2015 vir die Haaie in die Superreeks uitdraf. Foto: Christiaan Kotze
Rohan Janse van Rensburg

Die Leeus hoop om nog ’n onderskatte speler geleidelik tot ’n diamant te slyp.

Sampie Mastriet, die nasionale sewesspan se staatmaker en Blou Bulle se vleuel, is een van die Curriebeker-reeks se naaswenners se nuwe aanwinste vir volgende seisoen.

Die 24-jarige blits is sedert 2011 in die Bulle se strukture, maar sy meer instinktiewe ingesteldheid as ’n speler pas nie heeltemal mooi in die Pretorianers se gestruktureerde benadering nie en hy het besluit om die Jukskei­rivier oor te steek.

Mastriet het in vanjaar se veldtog redelik speelkans gekry – hy het 645 minute gespeel – maar sy sporadiese verskynings in Superrugby is ’n groter frustrasie.

Die Leeus ag die werk­etiek wat Mastriet by die Bulle geleer het asook sy vermoë onder die hoë bal baie hoog.

Die voormalige Bolander was in die Johannesburgers se visier sedert Chrysander Botha, Namibië se heelagter, in Julie vrygestel is van sy kontrak om hom by die Exeter Chiefs aan te sluit.

Daar is ook groot opgewondenheid oor Rohan Janse van Rensburg se koms na Johannesburg.

Daar word verneem dat die nasionale o.20-span se voormalige binnesenter ’n aansienlike groter kontrak by die Bulle aangebied is, maar dat hy verkies om sy rugby by Ellispark te speel.

Janse van Rensburg se spanmaat op o.21-vlak, Marvin Orie, is in dieselfde bootjie.

Dié 21-jarige slot het dit duidelik gestel dat hy Loftus wil verlaat, maar sy skuif word bemoeilik deur ’n klousule in sy huidige kontrak wat die Bulle die reg gee om hom aan hulle te verbind as die Pretorianers ’n soortgelyke aanbod as die een van ’n ander unie maak. Gegewe Orie – wat weens ’n besering die kans misgeloop het om die Baba Bokke in verlede jaar se wêreldkampioenskap te lei – se vermoë in die lynstane, is dit verstaanbaar dat die Bulle graag aan hom wil vasklou.

 Intussen word ook betroubaar verneem die Pumas se Renaldo Bothma sal wel aanstaande jaar vir die Haaie in die Superrugby-reeks uitdraf.

Daar word reeds vir ’n paar maande bespiegel dat die Haaie voelers na dié woelige agtsteman uitgesteek het. Die twee unies het ooreengekom Bothma sal vir die Curriebeker-reeks terugkeer na Mbombela (Nelspruit).

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.